As ek by magte was om te besluit, sou ek Augustus kroon as die eerste maand en begin van ’n nuwe jaar.
Tuiniers kan nie wag dat Augustus aanbreek nie. Dit is ’n maand vol verwagtinge, van nuwe lewe, ’n nuwe seisoen met die wete dat lente om die draai is.
Dit is tyd om in die tuin te begin werskaf. Die ou verdorwe en vaal tuin van die winter word netjies gemaak, gevoed en netso moet ons eie liggame se dorre wintervel ook gevoed word.
Gelukkig is daar ’n groot skat in ons Vrystaatse tuine waarmee ons onsself ook kan pamperlang en vernuwe.
Een van die afgeskeepte en nederigste kruie in ons wintertuin is die Gousblom wat, na my mening, na een van die kruie kroonjuwele verhef moet word.
Die gebruike daarvan om ons vel te help voed, streel en genees is legio en dan is die blomblare eetbaar en met hoë konsentrasies karoteen gevul is.
Gousblomme is ’n helende krui wat byna vir enige velprobleme gebruik kan word. Van brandwonde, insekbytplekke, brandboudjies en bedsere, die strelende behandeling en algemene voeding van die vel, ons grootste orgaan, is dus ideaal vir daaglikse gebruik.
Gousblomroom is ’n mengsel van gegeurde olies en gousblom- aftreksel. Jy benodig die volgende:
- ’n halwe koppie gedroogte of twee koppies vars Gousblomblare;
- ’n halwe koppie olyfolie;
- ’n kwart koppie klapperolie; en
- ’n kwart koppie volroom-lyfroom.
Die klapperolie en lyfroom word baie stadig saam op die stoof verhit. Nadat die klapperolie gesmelt is, voeg dan die olyfolie en blomblare by. Prut stadig vir ongeveer 30 tot 45 minute waarna die mengsel deur ’n sif gegooi word om die blomblare te verwyder. Sit eenkant om af te koel.
Hierna word ’n sterk aftreksel gemaak van ’n halwe koppie gedroogte blomblare of twee koppies vars blomblare te meng met twee koppies water en laat vir ongeveer 30 minute prut.
Verwyder weer die blomblare, koel effens af en klits dan die olie mengsel en tee aftreksel saam totdat die tee baie goed in die olie ingemeng is om ‘n sagte room te vorm. Bêre die Gousblom wonder-room in ’n glashouer en gebruik daagliks mildelik.
’n Halwe handvol vars blomblare kan bo-op slaai gegooi word waar die geel en oranje blomblare geur en kleur aan ‘n groenslaai verskaf. Gooi ook aan einde van sop, bredies en vleissouse se voorbereiding ’n handvol Gousblomblare in vir daardie ekstra voeding wat so broodnodig is vir ons liggame in die winter.
Volgende keer deel ek resepte om badwater met ons algemene tuinkruie te omtower.