Tuine in die Vrystaat is lowergroen ná die goeie somerreënval van die afgelope tyd. Só pronk die tuin van ’n private kleuterskool in Kroonstad ook, en die kinders geniet die mooi omgewing.
“Dit is belangrik vir kinders om buite te speel en in die tuin te werk,” sê Seugnet Oelofse, eienaar van The Growing Tree Learning Academy.
“Dit leer hulle van uitreik, versorging en verantwoordelikheid, en bykomend tot ander fisieke voordele verlaag dit hul stresvlakke omdat hulle aan ’n mooi, groen omgewing blootgestel is.”
Oelofse sê sy het haar ma, Lucile Grobbelaar, se groeihand geërf en dit het beslis tot die uitleg en mooimaak van die tuin bygedra. Dit is vir haar heerlik om saam met haar regterhand Elias Kokoana, die tuinier, planne te beraam oor hoe om die tuin pragtig en lowergroen te hou en boonop hoe om van die beddings en fokuspunte iets besonders en spesiaals te maak.
Die skool se grasperke, wat deur ’n tuindienste-onderneming van die dorp onderhou word, is tapytagtig en die netjiese beddings met ’n groot verskeidenheid plante gee die tuin ’n spoggerige voorkoms.
“Die kinders geniet dit vreeslik om in die tuin te speel, daarom is dit vir ons baie belangrik om dit mooi en vir hulle so huislik moontlik te maak.
“Boonop is dit vir ons personeel en die kinders lekker om saam in die tuin te ontspan – dit is immers terapeuties.”
Kinders wat die skool bywoon, word geleer om aan plante te ruik en te voel en om plante te versorg. Soms baljaar hulle sommer net in die modder.
Oelofse is dankbaar vir die goeie reën wat die tuin nou nog meer spoggerig laat vertoon.