OpTer viering van Wêreldleeudag (10/08), 1110 Augustus is vyf leeus wat vanuit Roemenië gered is by die Lionsrock Big Cat Sanctuary buite Bethlehem vrygelaat.
Die leeus is Donderdag (11/08) net ná 08:00 een vir een in hul nuwe tuiste by Lionsrock vrygelaat.
Hulle was eers baie skugter en huiwerig om die hokke waarin hulle vervoer is te verlaat, en die twee wyfies, Ellie en Geena, het effens gedisoriënteerd voorkom, maar vinnig begin rondsnuffel en die nuwe omgewing verken.
Die ander leeus en tiere by Lionsrock het die nuwelinge luidkeels in die verte verwelkom en dit was ’n ongelooflike ervaring om te beleef hoe die diere deur reuk en geluide kommunikeer.
Die mannetjies het egter meer moeite geverg; vir Roman en Vincent was dit nie so gemaklik om met hul nuwe tuiste kennis te maak nie.
Die twee moes deur die span wat hulle vrygelaat het, geroep en gelok word.
Dit was egter broer Dolf, wat sy opwagting skouspelagtig, amper vreesaanjaend, gemaak het.
Die oomblik dat die hok se hek gelig is, het Dolf uitgestorm en luidkeels aangekondig hy is in Afrika.
Dolf het vir ’n wyle onrustig op en af gehardloop voordat hy tot bedaring gekom het.
Die vyf leeus is deel van ’n groep van sewe leeus wat vanuit Roemenië met groot moeite deur die organisasie Four Paws, wat hoofsaaklik groot katte red en rehabiliteer, gered is.
Die ouer twee leeus, Simba en Elza, het egter gespesialiseerde sorg nodig en moes daarom by die Felida Big Cat Sanctuary in Nederland, agterbly.
’n Jaar oue welpie Aslan, is steeds in aanhouding in Roemenië, en Four Paws doen alles in sy vermoë om hom te red.
Die dierebeskermingswetgewing in Roemenië is egter ingewikkeld en belemmer die reddingsproses.
Die leeus is hoofsaaklik in musiekvideos gebruik, en is daarom uit private aanhouding gered.
Die Lionsrock Big Cat Sanctuary huisves meer as 100 leeus en tiere wat uit haglike omstandighede soos dié by sirkusse, dieretuine, gebliktejagbedryf en private eienaarskap gered word.