Ons ken die verhaal in Lukas 17:11 tot 19 van die melaatses wat genees is. Net een van die tien was opreg dankbaar; hoewel al tien fisiek gesond geword het.
Net een van hulle het, in vers 19, gehoor: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”
Sy dankbaarheid het hom meer as die ander laat ontvang. Daar is ’n dieper werk in sy hart, en ook sy hart word gesond. Dié man was ten volle genees.
Die mens se gees, siel en liggaam word deur dankbaarheid geraak. Dit verseker dat ons die lewe met ’n tevredenheid en gelatenheid leef.
Dit verdryf die gees van ongelukkigheid. Die gif van bitterheid en opstand word geneutraliseer. Alle lewe word ’n plek waar geleef kan word.
Die bekende Bybelkommentator Matthew Henry se beursie is eenkeer gesteel.
Omdat hy baie oor dankbaarheid gepreek het, besef hy toe hy moet doen wat hy preek.
Hy skryf daardie aand voordat hy gaan slaap die volgende in sy dagboek: “Dankie, Here, dat dit die eerste keer is. Tweedens, dankie dat die rowers my nie beseer het nie. Derdens het my beursie nie baie geld ingehad nie, en laastens, dankie dat ek die een is wat beroof is en nie die rower nie.”
Hy het daarna vertel hoe hy ná die dagboekinskrywing rustig en sonder woede gaan slaap het.
Gebed
Here, Jesus, ek wil graag met vrede vandag leef en vanaand só gaan slaap. Laat ek U dank vir alles sodat my liggaam, siel en gees kan rus vind. Bewaar my van die versmorende ondankbaarheid in die opvatting dat lewe om my draai. Amen.
- Els is ’n leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.