Dit was ’n geskiedkundige oorwinning vir die eerste rugbyspan van die Hoërskool Trio toe hy die Hoërskool Voortrekker in die Griffon-skoleliga se eindstryd laat les opsê het.
Die kragmeting tussen die twee skole het ’n naelbyt-eindstryd in die HT Pelatona-stadion in Welkom gelewer, en die veggees van altwee spanne het hoendervel-oomblikke onder die toeskouers verseker.
Trio was uit die staanspoor op die aanval en kort ná die afskop was die eerste punte op die telbord. Voortrekker van Bethlehem het verbete teruggeveg, maar dit was die skool van Kroonstad wat teen rustyd met 14 – 0 voorgeloop het.
In die tweede halftehelfte het Voortrekker vinnig punte aangeteken.
Dit was egter die Kroonstadters wat die eerste keer sedert 2017 die eindstryd gewen het, met ’n eindtelling van 21 – 15.
Hendré Kachelhoffer, Trio se hoof, was oorstelp van vreugde en het gesê hy is trots op elke speler. Hy het ook die afrigters van die eerste span, Swys Stemmet, Sas le Roux en Quintin Geldenhuys, vir hul bydrae tot die geskiedkundige gebeurtenis bedank.
Die Hoërskool Trio het verlede jaar tot stand gekom ná die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool).
Dié skool het in vanjaar se Griffon-skoleliga merkwaardig verras. In ’n baie uitdagende halfeindstryd het Trio teen die kampioen van 2019, Welkom-Gimnasium, te staan gekom en met ’n eindtelling van 26 – 22 koning gekraai.
Kroonstad is op 31 Julie as die nasionale wenner in Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie gekroon, en Trio se oorwinning in die Griffon-liga span boonop die kroon wat redes om vreugdevieringe betref.
- Die Hoërskool Trio se eerste seunshokkiespan is ook as die algehele wenner in sy liga gekroon toe hyfinaal die Hoërskool Sasolburg in die eindstryd met 3 – 1 geklop het.