Die polisie in Kroonstad ondersoek ‘n saak van diefstal en inbraak ná daar by die Laerskool Trio op die dorp ingebreek is.
Op Maandag 4 Julie het ‘n onderwyser van die Laerskool Trio, lêers by die skool gaan haal en het gesien skryfbehoeftes lê buite op die skoolterrrein gestrooi.
Met nadere ondersoek is bevind dat skooltoerusting soos, ‘n skootrekenaar, lamineermasjien, drukker, draadlose luidspreker en tweerigtingradio’s ter waarde van R9 000 vermis word.
Die polisie is onmiddellik ontbied om die saak verder te ondersoek.
“Dit is ‘n kriminele oortreding om gesteelde eiendom te verkoop en ons waarsku mense om dit nie te koop nie. Dit is ook ontoelaatbaar om ons kinders se opvoeding deur diesoort gedrag te kniehalter,” het brig. Mapulane Mbeloane, waarnemende Fezile Dabi-distrikskommissaris, gewaarsku. Enigeen met meer inligting oor die voorval moet dadelik die polisie in kennis stel of 067-037-5265 skakel.