Die sportspanne van die Hoërskool Voortrekker het die naweek in Kroonstad gaan kragte meet teen spanne van die Hoërskool Trio. Dit was as deel van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks.
Voortrekker se netbalspanne het ’n goeie dag ervaar en agt uit tien spanne het hul wedstryde gewen – een span het gelykop gespeel.
Die eerste span het ’n skittervertoning gelewer. Ná die eerste kwart was Voortrekker reeds 10 – 4 voor. Die rustydtelling was 23 – 8 en ná die derde kwart was 35 – 13 op die telbord.
Die wedstryd is met ’n eindtelling van 46 – 18 beklink.
Uitstekende vertonings is deur die hele span gelewer, met veral verdedigende spel van Lykie Jonck en Mianca van Niekerk, wat ook haar veelsydigheid gewys het deur aanvallend én verdedigend te beïndruk.