Op ’n glansryke prysuitdelinggeleentheid in Bethlehem is die algehele wenners van die Wesgrow-sportreeks vir sentrale skole vir 2023 aangekondig.
Vanjaar se deelnemende hoërskole was: Fichardtpark, Sentraal, Jim Fouché, al drie in Bloemfontein; Witteberg en Voortrekker in Bethlehem; Diamantveld in Kimberley; Trio in Kroonstad; en die Goudveld-Hoërskool in Welkom.
Op die geleentheid wat op 13 September by die Hoërskool Voortrekker gehou is, is skole soos volg as die wenner in die onderskeie afdelings aangewys:
- rugby: Voortrekker;
- seunshokkie: Jim Fouché;
- meisieshokkie: Voortrekker;
- hokkie, algeheel: Jim Fouché; en
- netbal: Sentraal.
Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) is as die algehele wenner in die reeks vir 2023 aangewys.
“Die reeks het weer die waarde van massadeelname beklemtoon, en was dit verblydend om die deelnemende skole se sportmanne en -vroue in aksie te sien,” sê Gys Coetzee, uitvoerende direkteur van die Wesgrow-reeks.
“Dit is ook die eerste keer dat die reeks op ’n interskole-basis aangepak is, nadat daar van die groepstelsel wegbeweeg is.”
Die wenner in elke sportsoort is vanjaar volgens die skole se plasing aan die einde van die seisoen bepaal, en die plasing is oor 11 weke se interskole-byeenkomste beslis. Die byeenkomste is in drie verskillende provinsies aangebied.
Altesaam 245 spanne het in 38 ligas teen mekaar meegeding, wat beteken dat meer as 4 000 spelers in dié reeks met mekaar kragte gemeet het.
Wesgrow, die hoofborg van die reeks, is op die prysuitdeling vir sy volgehoue vertroue in en ondersteuning aan skolesport in die sentrale streek bedank.
Daar is ook met opgewondenheid aangekondig dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) van 2024 af as medeborg betrokke sal wees.
Die reeks is in 2018 die eerste keer aangebied, en het vanjaar ’n vierde keer die bestes van die beste skolespelers in die sentrale streek die geleentheid gegee om teen mekaar mee te ding.