Trekker brul deur Clarens op roete van 2500km

’n Geldinsamelingsrit van 2?500?km wat met ’n trekker en sleepwa uitgevoer word, ry eersdaags spore deur ’n deel van die Oos-Vrystaat.


’n Tweede “On-Trac-Tor”-geldinsamelingsrit van 2 500 km wat met ’n trekker en sleepwa uitgevoer word, ry eersdaags spore deur ’n deel van die Oos-Vrystaat.

Die trekkerrit word deur dr. André Hattingh, uitvoerende hoof en stigter van Pediatric care Africa (PCA) deur vyf provinsies gery. Hattingh vertrek op 2 Julie vanaf Witrivier in Mpumalanga op ’n Mahindra 86-110-trekker, en ná ’n wye draai deur onder meer Marquard, Clocolan, Fouriesburg en Clarens eindig sy rit op 15 Julie by die beginpunt.

PCA is ’n nie-regerings- en nie-winsgewende organisasie wat help om na siek, honger en weerlose kinders om te sien, en is in 2017 gestig. Teen ’n gemiddelde spoed van 26 km per uur, en boonop op ’n stamperige trekker, verg die rit meer as net uithouvermoë.

In ’n verklaring sê PCA die rit van Hattingh is drieledig. Eerstens is dit om bewustheid oor kinders se nood te skep en geld daarvoor in te samel. Sedert PCA se ontstaan in 2017 is gratis mediese sorg aan 6 797 mense gebied; 1 327 kinders is deur ’n privaatspesialis behandel; 116 kinders het gratis operasies ondergaan; 409 000 kg kospakkies is oorhandig; asook 6 023 blikke formulemelk vir babas, en 7 023 pakke babapap. Die organisasie was ook betrokke met hulpverlening tydens rampe, onder meer die veldbrande in die Hertzogville-omgewing.

Tweedens gaan die rit bewusmaking skep oor die ongeveer 1 014 kinders wat jaarliks in Suid-Afrika vermoor word; die 1 184 wat aan poging tot moord blootgestel word; die 24 387 seksuele misdade wat teen kinders gepleeg word; die 7 815 kinders wat aangerand is met die doel om ernstig te beseer; en die 10 829 sake van aanranding teen kinders wat aangemeld is, aldus die 2019-’20 statistiek uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Polisie.

Derdens beoog PCA om internasionale fokus op die aantal plaasmoorde in Suid-Afrika te plaas, wat toenemend brutaal raak.

PCA poog om tydens die trekkerrit ten minste R250 000 in te samel om kinders wat dringende mediese sorg nodig het, te kan help.

Betrokkenheid met die projek kan op meer as een manier gedoen word:

  • borg Hattingh per kilometer wat hy op die trekker ry;
  • doen ’n eenmalige geldskenking, of maak ’n maandelikse bydrae;
  • raak as boerevereniging of -organisasie op die roete betrokke;
  • skenk enige soort formulemelk vir babas;
  • skenk diesel vir die trekkerrit;
  • word ’n PCA-vrywilliger; en
  • hospitale en dokters kan betrokke raak met pro bono-behandeling of operasies vir die kinders.

Nadat die trekkerrit op Sondag 2 Julie in Witrivier begin het, strek dit van daar deur onder meer Lydenburg, Potgietersrus, Thabazimbi, Koster, Wolmaransstad, Hartswater, Winburg, Clarens, Colenso, Dundee, Piet Retief, Badplaas en Witrivier.

Hattingh ry op 10 Julie sy draai deur die Oos-Vrystaat.

Besoek pediatriccareafrica.org vir meer inligting of skakel 076-229-5663.

You need to be Logged In to leave a comment.