Hy sou heel waarskynlik nou al langer as sy ma gewees het en ’n groter nommer skoen gedra het.
Só sê Herman Odendaal (12) se ma, Arina.
Dit was op Maandag 19 Julie ’n jaar sedert Herman sy eie lewe in hul huis in Kestell geneem het nadat hy geruime tyd geboelie is.
Sy dood voel steeds onwerklik, sê sy.
“Ek dink nie ’n mens kom ooit regtig oor of deur so iets nie. Jy moet maar net aangaan. Jy moet dit maar net een dag op ’n slag vat.
“Een dag gaan dit beter en die volgende dag gaan dit baie sleg. Dan moet jy maar net weer opstaan. Dis maar al.”
Arina sê mense se ondersteuning en gebede dra hul gesin.
Dit is vir hulle baie belangrik om sy nagedagtenis lewend te hou.
“Ons maak ’n punt daarvan om baie van hom te praat. Ek dink dit is wat ons almal staande hou.
“Ons sal byvoorbeeld ’n fliek of ’n storie kyk of deur ’n boek blaai, en dan sal ek sê ‘Boeta sou nou van dié kar gehou het’ of ‘hy sou nou van dié fliek gehou het’.”
Hulle wonder gereeld wat Herman oor iets sou sê.
Arina en haar man, Johan, het ook ’n dogter, Jo-Ri (15).
Arina sê Jo-Ri het fotografie begin beoefen en dit gaan met haar goed. Sy glo Herman sou baie trots op sy suster gewees het.
“Sy is eintlik net wonderlik. Sy help ons baie. Ek dink sy het ’n groter begrip vir ander mense se seer, so sy maak ’n punt daarvan om altyd ander te probeer help.”
Die herdenking van Herman se dood was vir die gesin ’n verskriklike dag. Hulle het baie oor hom gepraat en hulself ingedink hoe dit sou wees as hy nog met hulle was, sê Arina.
Ná Herman se dood het sy ’n bewusmakingsveldtog teen afknouery begin en die Facebook-blad Herman’s Heroes gestig.
Die terugvoering op die veldtog is glo baie goed, en mense sê die plakkate maak ’n verskil.
“Die kinders kom en sê vir die onderwysers wanneer hulle meen hulle word afgeknou.”
Arina maan ouers om met hul kinders te praat, na hulle te luister en na hul gedrag op te let.
“Slaan ag op jou kind se gedrag, want dis die klein goedjies wat jy ná die tyd agterkom.”