Topvermaak, sport en baie meer in die vooruitsig vir fees in Kroonstad

Die Ignite and Revive-span is druk besig om die derde Ignite en Revive-fees te beplan en vanjaar kan besoekers uitsien na ’n groter en meer opwindende fees.


Die Ignite and Revive-span is druk besig om die derde Ignite and Revive-fees in Kroonstad te beplan en vanjaar kan besoekers uitsien na ’n groter en meer opwindende fees.

Die aankondiging dat die Invictus Sport and Entertainment-organisasie wat die George Tens-sportfees aanbied ook ’n Kroonstad Tens-rugbytoernooi met groot name in die bedryf die naweek van die fees gaan aanbied, het sportgeesdriftiges opgewonde. Die fees word ook moontlik gemaak deur die voedsel­aanvullermaatskappy Ultimate Sports Nutrition (USN) as borg, en dit is een van die nuwe toevoegings op die feesprogram.

Netbal- en boogskut-entoesiaste kan ook nader staan vir ’n opwindende sportprogram gedurende die feesnaweek.

Voormalige springbok-afrigter Heyneke Meyer, medestigter van die George Tens, sê hy voel bevoorreg vir die geleentheid om saam met Kroonstad te werk.

“Kroonstad het reeds so baie vermag en is inderdaad ’n goeie voorbeeld dat wanneer jy jou fokus op iets plaas en hard werk, enige iets moontlik is,” sê hy.

Vanjaar sal die Ignite and Revive-fees hande neem met die Hoërskool Trio om die sportprogram suksesvol van stapel te stuur.

Demi Lee Moore

Demi Lee Moore is een van die gewilde kunstenaars wat feesgangers in Augustus op die Ignite and Revive-fees in Kroonstad kan verwag. Foto: Willem Botha

Vermaak is topprioriteit en op die verhoog sal die gewilde Die Piesangskille, Alterego, Demi Lee Moore, Riaan Benade, Carma, Dodo, Ruhan du Toit en Spoegwolf gehore vermaak.

Die Springbok en All Blacks-wedstryd sal op ’n grootskerm vir rugbyliefhebbers aangebied word en heerlike eet en drinkgoed sal te koop wees. Kultuurliefhebbers kan uitsien na ATKV-produksies vir oud en jonk.

’n Jeuglandbouskou en landbou-uitstallers met van die beste landbou-implemente en toerusting sal ’n trekpleister vir die landbougemeenskap wees.

Dertig entrepreneurs sal hulle produkte uitstal en verkoop met verskeie uitstallers, die gesogte dekormark asook ’n lieflike teetuin beskikbaar. Hope kindervermaak en aktiwiteite word ook beplan.

Die Sondag sal die fees amptelik met ’n gesamentlike kerkdiens afsluit wat deur The Shelter, Bernice West, Johan Voster, Jacomien en Arnold de Wet met lofsang en aanbidding gelei sal word.

Verskeie nuwe borge is vanjaar aan boord wat die fees vir seker na nuwe hoogtes sal neem.

“Dit gaan ’n bedrywige naweek wees met die verskillende sportsoorte. Dit bring ’n heel nuwe dinamika na die fees. Ons is opgewonde om gaste van oraloor in Kroonstad te verwelkom,” sê André van Pletzen, een van die organiseerders.

Die fees sal vanaf Vrydag 30 Augustus tot Sondag weer by die North High-skoolterrein (ou-Rooiskool) aangebied word.

  • Hou VrystaatKroon, die amptelike mediaborg van die Ignite and Revive-fees, dop vir meer nuus of volg die Facebook-blad Ignite & Revive.
Willem Botha

Riaan Benade is nog een van die sangers wat feesgangers op die Ignite and Revive-fees vir 2024 in Kroonstad kan verwag. Foto: Willem Botha
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.