Die sluitingsdatum van die 42ste Matrikulant van die jaar-kompetisie is na Vrydag 11 Augustus uitgestel.
Presteerders van oor die land heen kan hulle dus nog vir die kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad inskryf.
’n Stel kriteria wat oor baie jare reeds verfyn is, word gebruik om alle inskrywings te beoordeel en 25 semifinaliste aan te wys. Hieruit word 14 finaliste gekies wat van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein aan die eindronde deelneem.
Nie net leer die 14 finaliste mekaar ken in die eindronde nie, die vorige jaar se finaliste tree ook op dié geleentheid as chaperones vir die groep op. Benewens akademiese prestasie, leierskap, kultuur- en sportdeelname, moet deelnemers van voorneme wees om in 2024 heeltyds aan Kovsies te studeer.
Leerlinge kan hulself inskryf, of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet egter op die vorm aangebring word.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-Trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk; beurse van die UV Studentewerwingsdienste; en bywoning van die eindronde-geleentheid in Bloemfontein en geskenke ter waarde van R10 000. Die ander 11 semifinaliste in die kompetisie ontvang prysgeld van die Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.
Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur ’n e-pos aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.
Skole wat inskrywings gereed het, kan Greyling ook kontak om dit te gaan afhaal.