Tong-in-die-kies-parodie plaas liefde in die soeklig

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar twee mense wat so lief was vir mekaar dat hulle oornag fisiek aan mekaar vasgegroei het.


Eendag, nie so lank gelede nie, was daar twee mense wat so lief was vir mekaar dat hulle oornag fisiek aan mekaar vasgegroei het.

Met die “vassittery” word dié twee toe so keelvol vir mekaar dat hulle besluit om maar liewer te skei, maar watter een van dié twee sal dit oorleef?

Dié tong-in-die-kies-parodie genaamd 1 plaas die oeroue tema van liefde en verganklikheid onder die soeklig, en plaas dit in ’n abstrakte ruimte wat strek van oneindigheid tot in die dae toe die Griekse god Zeus vir Plato geïnspireer het met die mite van die wieletjie-mense.

Dit is ’n debuutproduksie op die Aardklop-kunstefees wat van 3 tot 8 Oktober in Potchefstroom aangebied word.

Gaan soek “Wheelie People” op die internet op.

Is die mens bestem om sy ander helfte te vind, of is die kanse hiervan ’n onberekenbare, wiskundige formule van totale onmoontlikheid?

1 is ’n moderne, absurde liefdesverhaal geïnspireer deur dié mite, en gebruik die metafoor om te bevraagteken wat gebeur nadat jy jou ander helfte gevind het.

Dié tragikomedie fokus op ’n enkele intieme, maar belangrike dag in die twee se lewens deur slim fisieke teater, skerp dialoog en simplistiese, dog doeltreffende ontwerp wat die regie en spel versterk en transformeer tot ’n teaterervaring wat vermaak, maar wat die gehoor ook uitdaag om die mites van sosiale kondisionering te bevraagteken. Hoekom werk verhoudings nie? Waar lê die fout en hoekom hierdie masochistiese soektog na vervulling in ’n ander?

Die kern van die stuk lê geknoop – soos ’n bol wol – in transformasie, ’n herskepping van menswees, saamwees en heel wees. Die liefde, net soos die lewe, is maar net ’n dun, bros draadjie gespinde vesel wat stywer trek met tyd en wat enige oomblik kan meegee.

Die vertoning vind op 4, 5, 6 en 7 Oktober in die Elgro-saal in Potchefstroom plaas.

Kaartjies is reeds beskikbaar op ticketpros.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.