‘Toeriste afgeskrik’

Inwoners en sakeondernemings van Fouriesburg is bekommerd oor die gebrekkige infrastuktuur wat die dorp en besoekers verlede naweek sonder water gelaat het.

Inwoners en sakeondernemings van Fouriesburg is bekommerd oor gebrekkige infrastuktuur.
Inwoners en sakeondernemings van Fouriesburg is bekommerd oor die gebrekkige infrastuktuur wat die dorp en besoekers verlede naweek sonder water gelaat het. Kabelfoute het veroorsaak dat daar nie water vanaf […] Credit: Facebook

Fouriesburg bekommerd oor waterinfrastruktuur

Inwoners en sakeondernemings van Fouriesburg is bekommerd oor die gebrekkige infrastuktuur wat die dorp en besoekers verlede naweek sonder water gelaat het.

Kabelfoute het veroorsaak dat water nie vanaf die plaaslike pompstasie op Fourieburg gepomp kon word nie. Die Meiringskloofdam dien as aangewese rugsteunstelsel, maar as gevolg van die foute was die stelsel buite werking, wat veroorsaak het dat die hele dorp sonder water gelaat is.

Die dorp en sy inwoners sien die watertekort as ‘n groot krisis omdat Fouriesburg as ‘n toeristebestemming beskou word.

Anders as in groter munisipaliteite het die meeste inwoners van Fouriesburg nie toegang tot boorgate of watertenks nie, wat die ontwrigting vererger het.

“Hoewel watertenkwaens tydelike verligting kan bied, is dit nie ‘n volhoubare oplossing nie. Besoekers verwag betroubare infrastruktuur, en die herhaalde mislukkings sal toeriste afskrik, wat uiteindelik die plaaslike ekonomie benadeel,” sê Irene Rügheimer, DA raadslid in die Dihlabeng-munisipaliteit.

Rügheimer voer aan dat, ondanks die dringendheid van die situasie, die burgemeester – wat ook as die wyksraadslid dien en in Fouriesburg woonagtig is – versuim het om met die gemeenskap te kommunikeer.

“In die afwesigheid van beslissende optrede van die munisipaliteit, moes inwoners en opposisieraadslede ingryp om amptenare te kontak in ‘n poging om die krisis op te los.

“Die versuim om noodsaaklike infrastruktuur in stand te hou en die funksionaliteit van rugsteunstelsels te verseker is onaanvaarbaar.”

In ‘n verklaring wat op 16 Maart deur die Dihlabeng-munisipaliteit uitgereik is, het Tshediso Maitse, woordvoerder vir die munisipaliteit, gesê dat die munisipaliteit bewus is van die probleem en dat die reservoirs leeg is.

Die munisipaliteit het toe gesê dat watertenkwaens beskikbaar gestel sou word en dat inwoners wat toegang tot boorgate het, van dié water gebruik moes maak.

‘n Petisie is intussen opgetrek waarin inwoners hul misnoeë uitspreek en onmiddellike instandhouding van die infrastruktuur vereis.

Rügheimer sê die petisie sal aan die munisipaliteit oorhandig word, en dat daar voortdurend druk op die munispaliteit en verantwoordelikes geplaas gaan word om toekomstige waterkrisisse te voorkom en betroubare dienslewering in Fouriesburg te verseker.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.