Toekoms van meganisasie hiér binne bereik

Die stalletjie van VKB-meganisasie beloof om, soos elke jaar, groot belangstelling te trek op die VKB Bieliemieliefees wat van 22 tot 25 Februarie aangebied word.


Die stalletjie van VKB-meganisasie beloof om, soos elke jaar, groot belangstelling te trek op die VKB Bieliemieliefees wat van 22 tot 25 Februarie aangebied word.

Min dinge kan ’n boer se oë so laat glinster soos ’n indruk­wekkende landbou-implement. Veral wanneer ’n mens deur die Vrystaat ry en ’n bloedrooi landbou-implement in die groen mielielande, sojaboonlanderye of tussen die goue koringare of sonneblomme gewaar.

Die waarskynlikheid is sterk dat daardie rooi masjien ’n implement is van Case IH, een van die talle handelsname wat deur VKB-meganisasie aan produsente in die streek beskikbaar gestel word.

Vanjaar se uitstalling van implemente op die fees gaan alles bied waaroor ’n produsent kan droom.

Onder meer Case IH-trekkers, van die kleinste 55 kW tot 450 kW, sal te sien wees.

Masjinerie van ander bekende handelsname, soos Equalizer-planters, Boki-implemente, Feeler-grondverskuiwingstoerusting en AgriCad-tapkarre sal ook tentoongestel word.

Dié is almal gewaardeerde verskaffers wat die afgelope 20 jaar al by VKB betrokke is.

“Vir ywerige ondersteuners van die handelsname sal daar ook ’n sogenaamde ‘fan shop’ wees, waar klante klere en skoene vir mans, vroue en kinders, asook toebehore – soos rugsakke, gordels, water­bottels, hoede, pette, gebreide musse, speelgoed en skaalmodelle – te koop sal vind,” sê Nico van der Walt, uitvoerende hoof van VKB-meganisasie.

Volgens Van der Walt kan besoekers daarna uitsien om byvoorbeeld ’n Case 3250-hoogloopspuit met die nuutste tegnologie in die nuwe 250-reeks op die uitstalling aan te tref. Die spuit maak die taak van chemie-beheer aansienlik ligter en baie meer presies, vir beter werking en besparing van gif.

“Dan is daar ’n 45 voet MacDon Draper-tafel, een van die grootste in die reeks.

“Ons het ook ’n uitstalling wat betref die presisie-afdeling, met ’n simulatorstoel van een van ons nuwe AFS Connect-trekkers, hommeltuigtegnologie en meer.”

Besoekers sal kan hoor, sien en voel hoe tegnologie die werk­verrigting en die ergonomika van die implemente verbeter het.

“Ons nooi alle produsente en voornemende boere, asook diegene wat selfs net daarvan droom om ’n stukkie grond te besit, om die uitstalling by te woon. Hier kan hulle lekker saam met die meganisasie-span kuier en oor die indrukwekkende masjienerie gesels,” nooi Van der Walt.

Die algehele waarde van die masjinerie op dié landbou-uitstalling is na raming R55 miljoen, en dit sluit topgehalte-produkte met die nuutste tegnologie in.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.