Lees Lukas 1:35-49.
Mense getuig daarvan dat werksverlies seker die grootste ongelukkigheid is wat in die lewe kan gebeur.
Wat kan Kersfees se vreugde-geskenk ons oor die lewe leer? Let op hoe Maria se bereidwilligheid vir God aanleiding gee tot haar vreugde.
In Lukas 1:46-48 gaan kuier sy vir haar niggie om haar swangerskap te deel en sing ’n loflied oor God wat haar gebruik: Ek prys die Here met my hele hart. My hart is bly oor God wat my red. Hy het my gesien en my gehelp, vir my, sy nederige dienaar. Van nou af sal al die mense sê ek is baie gelukkig.
Wat Maria bly gemaak het, is dat God besig is om haar te gebruik om sy en ander se belange te bevorder.
Dit laat haar jubel dat haar lewe ’n verskil maak.
Dit was nie noodwendig maklik nie, want mense het haar gespot oor die sogenaamde buite-egtelike kind.
Sy het as jong meisie seker gewonder oor hoe die bevalling sal verloop. Maar haar toewyding het haar dankbaar gemaak dat sy iets vir haar Vader kan doen. Sy was tevrede en gelukkig om dié rol van diensbaarheid te vervul.
Al gebeur die lewe met ons en skuif ons eie drome, is daar die moontlikheid om vreugde te ervaar in beskikbaarheid vir die Here se saak. Ons hoef nooit werkloos te wees nie.
Het jy, as geredde kind van God, al erken het dat ware vreugde in werk vir die Here is, en diep ongelukkigheid in ’n selfsugtige, dienslose en nuttelose lewe?
Gebed
- Here Jesus, hier is ek. Stuur my om ’n verskil mee te bring, want ek wil ook diep, innerlike vreugde hê omdat ek vir die Koning van konings werk. Amen.Els is ’n oudleraar van Kroonstad.