Ubert de Vries bak brood vir ‘n plaaslike koffiewinkel op die dorp. Foto: Verskaf
Ubert de Vries bak nie net vir kliënte brood nie, maar ook vir ‘n plaaslike koffiewinkel op die dorp. FOTO: Verskaf

‘n Tienerseun van Kroonstad met vele talente, waarvan bak uitstaan, se gesogte tuisgebakte brood is hoog in aanvraag. 

Die 15-jarige Ubert de Vries, ‘n gr.9-leerling wat tuisonderrig ontvang, het in gr.8 sy liefde vir brood bak ontdek.

“Ek is baie lief vir kosmaak en het saam met my ma begin brood bak. Dit is waar die gogga my gebyt het. Die gevoel van die deeg in my hande en die reuk van vars gebakte brood in die oggend is onbeskryflik,” sê Ubert.

Ubert de Vries (15) van Kroonstad is besig om naam te maak met die verskeidenheid van suurdeegbrode wat hy bak en verkoop. FOTO: Verskaf

Die jong bakker se nuuskierigheid oor hoe om verskillende brode te bak is gekweek deur sy ma, Barbara de Vries, wat graag in die kombuis eksprimenteer. Daarmee saam het hy deur middel van YouTube-video’s sy kennis uitgebrei.

Hy bak ‘n verskeidenheid van suurdeegbrode, wat saad- en rogbrood, asook ciabata, insluit. Om suurdeegbrood te bak is ‘n kuns wat bemeester moet word, en dit het Ubert vinnig gedoen. Hy sê dit is ‘n 24-uur-lange proses wat baie geduld en goeie tydsberekening verg om die perfekte brood te bak.

Hy gebruik verskillende tegnieke om die brode te bak en wys daarop dat tegniek en temperatuur ‘n baie groot rol speel. 

“Die belangrikste is die suurdeeg wat gereeld gevoer en lewendig gehou moet word, anders sal dit tot niet gaan.” 

Die jong bakker se gesogte brode het vinnig opslae gemaak en hy het reeds kliënte wat gereeld bestellings plaas. 

“Ek meng die deeg in die middag en bak dan die brood vroeg die volgende oggend.” 

Hy bak ook brood vir die Sinkstoor-koffiewinkel in die dorp.

Ná hy matriek beoog hy om aan die sjefskool die Institute of Culinary Arts (ICA) te studeer, en hy wil hoofsaaklik in kos-illustrasies en produkontwikkeling spesialiseer.

“Ek hoop om as jong entrepreneur al die fassette van die kosbedryf ten volle te bemeester.” 

Ubert is ‘n kranige klavier- en kitaarspeler en sal ook ‘n beroep in die musiekbedryf oorweeg.

Hy geniet ook boogskiet, fietsry, muurbal en calisthenics.

Hy is die oudste seun van Abrie en Barbara de Vries van Kroonstad. Hulle is sy grootste ondersteuners en moedig hom aan om sy passie uit te leef. Wanneer die bestellings te veel raak, help Barbara en kleinboet Regardt (13) Ubert om te bak. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article