Tienduisende sonder inkomste

Die werkloosheidsyfer vir die Vrystaat soos bevind in die jongste kwartaallikse indiens­nemingspeiling is kommerwekkend.


Die werkloosheidsyfer vir die Vrystaat soos bevind in die jongste kwartaallikse indiens­nemingspeiling is kommerwekkend.

Dit nadat die vierde kwartaal van 2024 (van Oktober tot Desember) se syfer aangetoon het dat 25 000 meer mense in die Vrystaat werkloos is.

Dit is die hoogste werkloosheidsyfer wat in enige van die nege provinsies in die land aangeteken is.

Die amptelike werkloosheidskoers in die Vrystaat staan op 37,9%, en die uitgebreide werkloosheidskoers op 44,2%.

“Hierdie getalle skets ’n donker prentjie van die situasie in die provinsie en is maar ’n numeriese voorstelling van die realiteit waarmee baie mense te kampe het,” sê David van Vuuren, DA-woordvoerder vir ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaatse wetgewer.

“Die meerderheid inwoners van die provinsie leef reeds in armoede en is van maatskaplike toelae afhanklik. Die skerp toename in werkloosheid verdiep en skep ’n baie sombere prentjie.”

Volgens Van Vuuren moet die regering die ekonomie stimuleer deur in infrastruktuur te belê en dienste te verskaf, wat investering en die vestiging van besighede aanmoedig en help om werk te skep.

“Dit is kommerwekkend om te weet dat die provinsiale regering keer op keer bewys het dat Vrystaat nie ’n omgewing kan skep wat bevorderlik is vir beleggers nie.”

Die DA meen die plaaslike regering is daarvoor verantwoordelik om werkskepping te stimuleer, plaaslike besighede te ondersteun en ekonomiese toestande te verbeter om die werkloosheidsyfer te verbeter.

“Dringende optrede van die plaaslike regering is nodig om die werkloosheid hok te slaan en om mense in die Vrystaat te bemagtig.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.