Leandi Grey is die nuwe aanbieder van Boer soek ‘n Vrou. FOTO: Gys Loubser

Vrystaatse boere neem vanjaar die voortou met boere van oor die land heen wat binnekort vrou gaan soek.

Wanneer kykNET se reeks Die brug se spelers hul bouwerk afgehandel het, is dit die boere se beurt om ’n brug na moontlike liefde te soek. Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou van dié gewilde maatsoekreeks begin op Donderdag 7 Augustus op DStv-kanaal 144.

Vanjaar se oes van deelnemers se ouderdomme wissel van 26 tot 56, en die boere verteenwoordig ses provinsies, met onder meer drie hubare boere uit die Vrystaat wat aan dié reeks deelneem.

Soos voorheen sal Boer soek ’n vrou, wat sedert 2007 ’n móét op die Suid-Afrikaanse televisiekalender geword het, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het.

Reandi Grey klim vir die eerste keer agter die stuur van die Boer soek ’n vrou-Hilux-bakkie in, en sy sê daar is talle verrassings wat op kykers wag in ’n vars seisoen.

“Daar is nie net tien nuwe boere nie, maar ook ’n splinternuwe regisseur en ’n nuwe aanbieder,” sê Reandi.

“Al die boere wat ingeskryf het, is ook mense wat ek self naby aan my gaan wil hou vir die res van my lewe.

“Hulle is besonderse sout-van-die-aarde-mense wat liefde verdien – en ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees,” sê sy.

Volgens haar is dit ongelooflik om sien hoe die boere verander van die begin tot die einde, en wat hulle ervaar.

“Dit is ’n rol wat ek toewens vir enigiemand in hul lewe, want om deel te kan wees van ’n liefdesverhaal, of dit vir iemand anders of vir jouself is, is baie spesiaal en nodig.”

2025 se boere is:

1. Nicolaas (37), skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap

2. Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

3. Lourie (26), beesboer van Vryburg, Noordwes

4. Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes

5. Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

6. Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

7. Reinier (29), saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat

8. Ruan (30), skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat

9. Christof (38), turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat

10. Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

You need to be Logged In to leave a comment.