Tien kry ook ’n beurt

In sy eerste wedstryd vir 2022 het die meisiekrieketspan van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem die Hoërskool Paul Erasmus van Senekal se tweede span laat les opsê.


In sy eerste wedstryd vir 2022 het die meisiekrieketspan van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem die Hoërskool Paul Erasmus van Senekal se tweede span laat les opsê.

Tien van die 11 Wittebergspelers het Woensdag (19/01) hul debuut gemaak en hulle baie goed van hul taak gekwyt.

Senekal het die loting gewen en Witteberg ingestuur om eerste te kolf.

Leozé Lottering het van die eerste bal af die teenstanders van haar teenwoordigheid bewus gemaak. In haar debuutwedstryd het sy 60 lopies aangeteken sonder dat haar paaltjie kantel. Sy is goed bygestaan deur Zané Wessels, wat 19 lopies tot die telling bygedra het. Leozé en Amy Kotzé was die openingspaar vir die dag, en hulle het ’n vennootskap van 46 lopies van 52 balle aangeteken. Witteberg se kolfbeurt het geëindig met ’n telling van 157 vir die verlies van 3 paaltjies in die 20 boulbeurte. Gure weer het amper die wedstryd in die wiele gery, maar Witteberg kon daarin slaag om in 36 minute tien paaltjies te laat kantel.

Evané du Toit het beïndruk toe sy 4 paaltjies in 4 boulbeurte geneem het en slegs 9 lopies afgestaan het.

Die Lottering-sussies Leozé en Ziané het elk 2 paaltjies laat kantel, en nog ’n paaltjie het geval toe samewerking tussen Marichelle Spies en paaltjiewagter Amy tot die uithardloop van ’n kolwer gelei het. Elry Flores het verseker dat die laaste paaltjie val.

Senekal het slegs 28 lopies op die telbord gehad, en Witteberg het met 129 lopies geseëvier.

“Ek is ongelooflik trots op die meisies, wat in baie slegte weer vasgebyt het om die wedstyd so mooi te wen,” sê Melincke Maartens, afrigter van Witteberg.

“Dit was ons eerste wedstryd van die seisoen, en dit is lekker dat ons dit op so ’n hoë noot kon begin.”

Witteberg se volgende wedstryde is teen die Hoërskool Ficksburg en die Hoërskool Paul Erasmus se eerste span.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.