Die Goblepark-stadion in Bethlehem wat vir groot sportgeleenthede aangewend word en goeie ekonomiese voordele vir Bethlehem inhou, is in ’n gehawende toestand weens gebrek aan instandhouding.
Die stadion word beskou as ’n belangrike inkomste-genererende bate van die plaaslike Dihlabeng-munisipaliteit, maar daar is egter verskeie klagtes oor die toestand van die geriewe, wat kommer by inwoners en gebruikers wek.
“Dringende verbeteringe by die stadion is uiters noodsaaklik om te verhoed dat belangrike sportgeleenthede na ander dorpe verskuif word, wat ’n groot finansiële impak op Bethlehem en plaaslike atlete sal hê,” sê Estie Senekal, DA-raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit.
Volgens Senekal is die toilette dikwels vuil en buite werking, met sommige sonder deure en noodsaaklike voorrade soos toiletpapier.
Daar is geen vullisdromme nie, die gras is oorgroei en hope gesnoeide takke word nie verwyder nie. Boonop benodig die geboue dringend verf- en herstelwerk.
Senekal sê hulle het onlangs met die munisipale amptenare verantwoordelik vir die stadion vergader en daarop aangedring dat instandhouding van belangrike gemeenskapsgeriewe onmiddelik gedoen word.
Tydens die gesprekke is aanbevelings gemaak om personeel beskikbaar te stel tydens sportgeleenthede om die toilette en kleedkamers skoon te hou.
Die voorsiening van voldoende vullisdromme en skoonmaakmiddels om higiëne te handhaaf asook die verwydering van afval en die sny van die gras, is in die gesprek geopper.
’n Beroep is op die munisipaliteit gedoen om gehoor te gee sodat die stadion steeds as topklas-sportgeriewe gebruik te kan word.
“Die Goblepark-stadion is meer as net ’n sportterrein, dit is ’n sentrale deel van Bethlehem se gemeenskap- en toerisme-ekosisteem.
“Die skilderagtige ligging en potensiaal om positiewe ervarings te bied, trek besoekers en atlete. Sonder ingryping sal die agteruitgang egter voortduur, wat die stadion se waarde vir die dorp verminder.”