’n Bekende meestersatleet van Kroonstad het sommer vroeg in die atletiekseisoen sy slag op die baan gewys.
Op die Sentraal-Gauteng-meestersbyeenkoms, wat op Saterdag 16 April in Germiston aangebied is, het Bobby de Kock (77) in elk van sy ses nommers ’n goue medalje behaal.
Hy het sy staal in die 100 m- en 200 m-naelloop, 800 m- en 5 000 m-wedloop, 2 000 m-hindernis en verspring getoon.
Op die Gauteng-Noord-meestersbyeenkoms, wat einde Maart in Pretoria plaasgevind het, het hy die Pilditch-stadion se splinternuwe tartanbaan aangedurf.
Hier het hy in dieselfde ses nommers goud verwerf.
“Siende dat die Pilditch-stadion met ’n pragtige nuwe tartanbaan spog, was die byeenkoms ’n baie lekker ervaring,” sê De Kock.
Ter voorbereiding vir atletiekbyeenkomste oefen hy weekliks by die Kroonstad-multisportklub. Elke Saterdag durf hy ook die dorp se parkrun-geleentheid aan.
De Kock neem sedert 1998 gereeld aan meestersbyeenkomste deel, en is van plan om nog lank daarmee vol te hou.
Hy berei hom nou voor vir die nasionale kampioenskapsbyeenkoms wat die eerste naweek in Mei in die Pilditch-stadion aangebied word.