Tannie Rosy (107) blom agter nuwe loopraam

Tannie Rosy Tlali (107) van Kroonstad moes met twee stokke oor die weg kom, maar danksy ‘n skenker het sy ‘n nuwe loopraam ontvang.


Die oudste inwoner van Kroonstad, tannie Rosy Tlali, wat ‘n volle 107 jaar oud is, moes met twee stokke oor die weg kom, maar danksy ‘n anonieme skenker het sy ‘n nuwe loopraam ontvang. 

Cobus de Beer van die Isidingo-sekuriteitsfirma in Kroonstad het van tannie Rosy se behoefte te hore gekom en vir Spaski Geldenhuis van die Kroonstad-Rotariërs gekontak om hulp. Geldenhuis kon daarin slaag om by ‘n anonieme skenker ’n loopraam vir tannie Rosy te bekom. “My ma is so dankbaar vir haar nuwe loopraam en het net hardop gesê ‘Kea leboha’ en was oorstelp van vreugde. Sy het dadelik die loopraam op die proef gestel en gemaklik om die huis geloop,” sê haar skoondogter Hilda Tlali.

Hoewel tannie Rosy se gesondheid nog goed is, sukkel sy met haar gehoor en om te loop. Tannie Rosy het 14 kinders gehad, van wie nog net drie lewe, en is geseën met 21 kleinkinders. Die gesin bly al baie jare naby die Groblersdam-pompstasie in Kroonstad, waar haar seun Andries Tlali werksaam was. Sy sal haar 108ste verjaardag op 17 Augustus vier. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.