Die 53-jarige Carmen Da Silva, ’n atleet van Kroonstad, het ’n silwer- en bronsmedalje op die Afrika-meestersatletiekkampioenskapsbyeenkoms verower.
Die byeenkoms is van Donderdag 16 November tot Saterdag in die Pilditch-atletiekstadion in Pretoria gehou.
Da Silva het silwer in die 400 m en brons in die 200 m verwerf.
“Dit was ’n belewenis en voorwaar ’n seën om teen internasionale atlete te kon meeding. Ons was altesaam 420 atlete,” sê Da Silva.
Atlete was van Suid-Afrika, Kenia, Estland, Namibië, Mauritius, die Ivoorkus, Tunisië, Amerika, die Wes-Indiese Eilande, Algerië, Australië, Burundi, Kameroen en Duitsland.