Talentvolles tree aan vir eisteddfod

Die Allegretto- interprovinsiale eisteddfod (Allegretto IPE) sprei sy vlerke na die Oos-Vrystaat en sal van 23 tot 25 Augustus in Bethlehem aangebied word.


Die Allegretto- interprovinsiale eisteddfod (Allegretto IPE) sprei sy vlerke na die Oos-Vrystaat en sal van 23 tot 25 Augustus in Bethlehem aangebied word.

Jonita Breytenbach van Bethlehem, wat spraak-en-dramaklasse aanbied en die streek­verteenwoordiger van Allegretto is, sê die eisteddfod bied ’n gulde geleentheid vir deelnemers om op nasionale vlak mee te ding en op ’n galakonsert medaljes en trofeë te verower.

Groot pryse is op die spel.

“Dit is ’n eisteddfod met ’n verskil. Professionele beoordelaars reis oor die land heen om die duisende deelnemers te beoordeel, en in 2022 is altesaam 842 eerbewyse nasionaal toegeken. Benewens medaljes, trofeë en kontantpryse is ook Lego-stelle van R28 000 as pryse toegeken.”

Jonita sê Allegretto is in 2004 in Gauteng begin en is ’n susterprojek van die Allegretto FAK-toneelfees.

Deelnemers ontvang terugvoering van beoordelaars, wat opbouende en positiewe wenke gee oor hoe hulle hul talente ten volle kan ontwikkel, en hulle word aangespoor om weer deel te neem.

’n Wye verskeidenheid nommers word aangebied. Die afdeling vir poësie maak byvoorbeeld voorsiening vir ses nommers: eie keuse, voorgeskrewe poësie, selfgeskrewe poësie, klassieke poësie, gedramatiseerde poësie en groepspoësie.

Inskryfvorms en die sillabusse met riglyne is op allegretto-eisteddfod.co.za beskikbaar.

Die voorgeskrewe gedigte vir Afrikaans en Engels kan ook van die webtuiste afgelaai word.

Die sluitingsdatum vir Allegretto se Bethlehem-eisteddfod is 13 Maart.

“Alle skole, van kleuterskole tot hoërskole, asook leerlinge wat privaat onderrig word en leerlinge van ateljees, is welkom,” nooi die organiseerders.

Die geleentheid sal in die saal van die Hervormde kerk Bethlehem, Barry de Koklaan 29, aangebied word.

Dit sal in die week ná die Harrismith-eisteddfod, van 14 tot 18 Augustus, aangebied word.

Rig navrae aan Jonita by 072-7989-544, of stuur e-pos na jbreytenbachmaluti@gmail.com.



Madli Grobbelaar

You need to be Logged In to leave a comment.