Talente talryk

’n Oud-Bethlehemiet is onlangs as speler van die wedstryd in die eindstryd van die vrouerugby-premierliga aangewys.

’n Oud-Bethlehemiet is as speler van die wedstryd in die eindstryd van die vrouerugby-premierliga teen die Westelike Provinsie (WP) aangewys. Jakkie Cilliers (22) is hier in aksie en het ’n uitstekende vertoning gelewer in die eindstryd. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Oud-Bethlehemiet is onlangs as speler van die wedstryd in die eindstryd van die vrouerugby-premierliga aangewys.

Die 22-jarige Jakkie Cilliers, een van Suid Afrika se voorste vrouerugbyspelers, het op Saterdag 26 Augustus die Blue Bulls Daisies se naam hoog gehou toe sy as speler van die wedstryd in die finaal teen die Westelike Provinsie (WP) gekroon is.

Cilliers wat as binnesenter vir die Blou Bulle uitgedraf het, spog met twee drieë toe sy agter die doellyn gaan kuier het.

Die bulle het met ’n eindtelling van 69 – 8 as oorwinnaars uit die stryd getree.

Haar vinnig en vlytige spel het bygedra tot die groot telling op die telbord.

Cilliers het in 2018 aan die Hoërskool Witteberg gematrikuleer.

As ’n veelsydige en kranige sportvrou het sy ook vir die NWU se netbalspan gespeel en opslae gemaak toe sy in matriek vir die Vrystaatse vrouekrieketspan gekies is.

In dieselfde jaar het sy haar nasionale debuut op die krieketveld gemaak toe sy die Vrystaatse senior vrouekrieketspan in ’n T20-wedstryd verteenwoordig het.

Sy het later haar graad in onderwys aan die Noord-Wes Universiteit (NWU) in Potchefstroom verwerf.

Voorheen was sy by die Luiperds-rugbyunie (LRU) betrokke, maar sedert die begin van vanjaar draf sy vir die Blou Bulle uit.

In 2021 is Cilliers vir die eerste keer vir die Springbok-oefengroep gekies en het elke jaar daarna die span verteenwoordig.

Sy het die Vrystaat by die nasionale atletiekbyeenkoms in dieselfde jaar verteenwoordig.

Sy speel ewe tuis op binne- of buitesenter, en is ook ’n doelskopper van formaat.

Cilliers sê dit is vir haar ’n groot eer om die Springboktrui oor haar kop te trek maar sy is net so trots op die pienk truie van die Blou Bulle te dra.

You need to be Logged In to leave a comment.