Talent byeen op Bokkieweek

“Die Noord-Vrystaatse sportspanne het baie goed gevaar op die Bokkieweek, waar die rugby-, hokkie- en netbalspanne vir o.13- tot o.19-spelers hulle goed van hul taak gekwyt het,” sê Peter Marich, president van die Noord-Vrystaat-unie.


“Die Noord-Vrystaatse sportspanne het baie goed gevaar op die Bokkieweek, waar die rugby-, hokkie- en netbalspanne vir o.13- tot o.19-spelers hulle goed van hul taak gekwyt het,” sê Peter Marich, president van die Noord-Vrystaat-unie.

Die Bokkieweek is vanjaar van die Maandag 4 Julie tot Vrydag 8 Julie in Kroonstad aangebied.

Dié sportgeleentheid is begin met Maandagaand se o.19-openingsrugbywedstryd tussen Stellaland en Noord-Vrystaat, wat Noord-Vrystaat met 13 – 10 gewen het.

Rugbyspanne van die unie het spel van hoogstaande gehalte gelewer en afrigters is trots op die manier waarop hulle hul teenstanders laat bloed sweet het.

Die netbalspanne van Noord-Vrystaat het beslis nie teruggehou nie. Die o.19-span was eindelik vierde in die toernooi. Sewe van dié tien spelers is o.16.

Die o.16-span van Noord-Vrystaat was negende, die o.14-span vierde en die o.13-span sesde.

Die unie se onderskeie hokkiespanne was kookwater op die veld en hul vertonings het hope aksie opgelewer.

Die o.19-span het onder andere Stellaland met 5 – 2 geklop en teen die Vaaldriehoekspan gelykop gespeel.

Lisa de Villiers van die o.19-Noord-Vrystaat-span is vir die Gazelle-hokkiespan gekies, en Jorinda Wessels is vierde uit die 14 doelwagters wat aan die toernooi deelgeneem het.

Die o.16-span het oorwinnings teen die spanne van die Vrystaat en Transvaal behaal.

“Al die Noord-Vrystaat-spanne spog met hope sporttalent, en ons is trots op elke speler van die unie.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir ’n suksesvolle Bokkieweek en vir die volgehoue ondersteuning van unies deur met hul topsportmanne en -vroue hier in Kroonstad te kom spog,” sê Marich.

Die lede van die Noord-Vrystaat-spanne is verteenwoordigend van Kroonstad, Welkom, Virginia, Hennenman, Hoopstad, Wesselsbron, Bothaville, Parys, Vrede, Warden, Frankfort en Bethlehem.

You need to be Logged In to leave a comment.