Viljoenskroon stuk-stuk in ere herstel

Lede van die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 16 Maart die ingang na die dorp opgeknap en 55 sakke vullis opgeruim en verwyder.


Lede van die AfriForum-tak in Viljoenskroon het 55 sakke vullis opgeruim en verwyder. Boonop is die ingang na die dorp opgeknap.

Op 16 Maart het 12 mense die ingang vanaf Kroonstad opgeruim.

Hulle het vullis langs die pad opgetel, die verkeersirkels se gras gesny, bome gesnoei en geute, asook ’n stormwaterdrein, skoongemaak.

Altesaam het hulle 55 sakke vullis verwyder.

Die ingang na die dorp is hoofsaaklik aangepak, omdat dit deur baie besoekers en inwoners gebruik word.

“Ons wil al die inwoners wat ’n bydrae gelewer het, bedank,” sê Attie Barnard, waarnemende voorsitter van die Viljoenskroon-tak.

“Die Viljoenskroon-tak wil nog toerusting aankoop om dié soort opruiming meer suksesvol en volhoubaar te maak.

“As enigeen ’n bydrae of skenking wil lewer, sal die tak dit opreg waardeer.”

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, sê die opruiming was net weer ’n bewys dat inwoners eerder self hul dorp moet onderhou omdat dit nie meer deur die munisipaliteite gedoen word nie.

“ ’n Klein groep gewillige mense kan in ’n kort tydjie ’n groot verskil maak.”

Vir meer inligting, of om by die projek betrokke te raak, kontak Barnard deur 082-557-1428 te skakel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.