Inskrywings vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se negende Internasionale Afrikaans-ekspo word ingewag.
Die tema van vanjaar se ekspo, “skepe”, sluit in alles wat met skepe verband hou – van die vaartuig self tot die seile, kraaines en anker.
Deelnemers sal in tien afdelings kan meeding om aan hul kreatiwiteit uiting te gee.
Belangstellendes word aangemoedig om skepe met verfkwaste of potlode tot gestalte te bring, deur die lens van ’n kamera vas te vang of ’n storie oor skepe uit die pen te laat vloei.
Die organisasie sê deelnemers moet begeester word deur woorde soos “skeepvaart”, “handelsvloot”, “skeepvaartbedryf”, “seehandel”, “seevervoer” en “bote” om wind in hul kreatiewe seile te blaas.
Benewens die splinternuwe tema is daar vanjaar ook twee nuwe afdelings, naamlik lirieke en grafiese ontwerp, waarin deelnemers hulle kan uitleef.
Die ander afdelings is dagboekinskrywings, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, voordrag, fotografie en kuns.
Gr. O-leerlinge tot 25-jariges mag deelneem, solank hulle Afrikaans praat of ’n liefde vir dié taal koester.
Gr. O- tot gr. 3-leerlinge kan hulle vir voordrag en kuns inskryf, terwyl gr. 4- tot gr. 5-leerlinge aan fotografie, poësie, voordrag, lirieke en kuns mag deelneem. Gr. 6-leerlinge tot 25-jariges kan in al tien afdelings deelneem.
Vanjaar sal lede van die publiek vir die algehele wenners mag stem.
Alle inskrywings, met die uitsondering van kunswerke, moet aanlyn by projekte.co.za ingeskryf word. Kunswerke moet by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria ingedien word.
Aanlyn inskrywings sluit op Vrydag 29 Julie.
Die skool met die meeste inskrywings staan die kans om R10 000 te wen.
Algehele wenners van gr. O tot gr. 3, asook van gr. 4 tot gr. 7, kan R1 000 wen.
Deelnemers van gr. 8 tot gr. 12 staan die kans om R1 500 te wen, terwyl deelnemers aan die ope afdeling R2 000 kan wen.
Volgens Esté Cilliers, projekbeampte van skoolprojekte by die FAK, is hulle opgewonde oor dié jaar se ekspo.
“Ons moedig deelnemers aan om op ’n skeppingsvaart te gaan.”