Swemmers van Kroonstad en omgewing sal verheug wees om te verneem dat die Môrewag-swembad nuwe lewe gekry het. Dié geriewe, wat met behulp van ’n private onderneming en ander belanghebbendes herstel en opgeknap is, sal vir die nuwe swemseisoen gereed wees.
Tydens die opknappingsproses is die plaveisel, teëls, waterpype en elektrisiteitstoevoer vervang en herstel. Volgens Albie Esterhuizen van CC Chickens in Kroonstad het sy onderneming betrokke geraak toe sprake van ’n swembad vir die nuwe Trio-skool ontstaan het.
“Belanghebbendes het die voorstel gemaak om eerder die bestaande Môrewag-swembad op te knap.”
VrystaatKroon het voorheen berig dat die tekort aan oefengeriewe vir swemmers van Kroonstad ’n uitdaging bied, en dat hulle genoop is om in nabygeleë dorpe te oefen. Dit het ook ’n negatiewe invloed op Kroonstad se ekonomie gehad. Esterhuizen sê hulle het met die Moqhaka-munisipaliteit hande gevat om die swembad te herstel. Die munisipaliteit het al die nodige materiaal vir die herstelwerk voorsien, terwyl die werkmag vir spesifieke take deur ondernemings bygedra is.