Sweep wat klap, bring nuwe hoop

Oral in die nuus duik daar deesdae berigte op oor die inhegtenisneming van munisipale en staatsamptenare, meestal vir bedrog en korrupsie.


Oral in die nuus duik daar deesdae berigte op oor die inhegtenisneming van munisipale en staatsamptenare, meestal vir bedrog en korrupsie.

Nie net lees ons berigte oor beweerde korrupsie nie; daar word daadwerlike stappe teen korrupte amptenare geneem en die hof hoor sake aan en bevind amptenare strafbaar.

Is dit ’n aanduiding dat reg en geregtigheid werklik geskied, of waarheen lei die skynbaar skielike optrede? Bykans weekliks is daar amptenare wat les opsê.

Verlede jaar Junie het Netwerk24 berig dat daar in 16 munisipaliteite in die Vrystaat 45 sake van korrupsie, bedrog, wanbestuur en wanadministrasie deur die Valke ondersoek is. Daar is ook voorspel dat die sake meer kon word en dat verskeie amptenare op provinsiale, asook plaaslike, vlak sou boet. Intussen het hofsake begin van betrokkenes waarby ook polisie-amptenare betrek is.

Dat reg en geregtigheid besig is om te geskied, is ’n verligting vir elke belastingbetaler, met ’n ongekende hoop dat korrupsie hokgeslaan sal word.

Of dalk is daar baie druk op die regering deur Westerse lande of moontlike beleggers; óf word die pionne op die skaakbord rondgeskuif om die regte geluide te maak so op die vooraand van volgende jaar se verkiesing.

Ongeag die motief – dat daar wel opgetree word, is lig in die donker tonnel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.