Om ’n noodlanding met ’n vliegtuig op die besige N1-hoofweg te doen sit nie in enigiemand se broek nie.
’n Tiger Moth-vliegtuig wat Vrydag weens enjinprobleme ’n noodlanding net buite Kroonstad moes doen, is ongeskonde.
Slegs ’n vlieënier met uitstekende vliegvaardighede kon die landing suksesvol doen en Hennie Delport het voorkomend en flink opgetree. Sy lof word besing vir die uiters bekwame noodlanding wat hy uitgevoer het. Vir motoriste was dit seker ’n vreesaanjaende prentjie toe die vliegtuig al hoe nader aan die N1 beweeg om ’n noodlanding te doen.
Owerhede het hul na die toneel gehaas, en die sitsuasie vinnig onder beheer gebring. Geen motoriste of die vlieënier en sy passasier is beseer nie.
Dit is wel sleg dat weens die gehawende toestand van die pad na die Kroonstad vliegveld die vliegtuig nie ingesleep kon word nie. Die Tiger Moth is op die grasprek van ’n aftreeoord in die dorp gelaat.
Kundiges reken die vliegtuig sou moontlik meer skade opgedoen het met die insleep na die vliegveld as met die noodlanding.
’n Mens is dankbaar dat die noodlanding seepglad verloop het, maar dit steek tog dwars in die krop om te weet dat die vliegtuig in die dorp gelaat moes word, weens die gehawende pad na die vliegveld waar die vliegtuig veilig bewaar sou kon word.

