Die Valke, die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdade, se besoek aan die Moqhaka-munisipaliteit in Kroonstad as deel van ’n bewusmakingsveldtog oor ernstige korrupsie-ondersoeke, het tot ’n ontnugtering gelei.
Die doel was om munisipale werkers in te lig sodat hulle onetiese gedrag en moontlike korrupsie kan help identifiseer, en ook om hulle te bemagtig oor hoe dit aangemeld kan word.
Aanvanklik het egter skaars 100 werknemers van die munisipaliteit, waar meer as 800 mense in diens is, vir die geleentheid opgedaag.
Dat die waarnemende munisipale bestuurder eers sy skok en misnoeë oor die swak bywoning moes uitspreek, en die Valke se verskoning vra, voordat hy aan die departementshoofde opdrag gegee het om hul personeel te bymekaar te kry, dui op verleentheid.
Volgens hom was elke personeellid ingelig oor die inligtingsessie wat hulle moes bywoon. Dit lyk daarom asof die versoek op dowe ore geval het, of dat werkers doelbewus die geleentheid probeer misloop het.
Dit laat ’n mens wonder of dit is hoe daar in die algemeen aan direkte opdragte van die bestuur gehoor gegee word. Kan dit dalk die rede wees hoekom die meeste munisipaliteite nie funksioneer soos hulle moet nie?