Swaar reënneerslae wek kommer by saaiboere in die Vrystaat. Met reën wat voortdurend uitsak, kon die omvang van die skade aan oeste nog nie akkuraat bepaal word nie.
“Die meeste saaiboere het skade en moet groot uitdagings trotseer,” sê Hendrik Knobel, verteenwoordiger van Vrystaat Landbou in Bethlehem.
“Ons staan op ongeveer 325 mm reën – dit terwyl die Bethlehem-omgewing se gemiddelde reënval vir Desember 120 mm is.
“Die jong mielies is geel van te min suurstof. Hoewel die eerste mielie-aanplantings en mielies op kleilande redelik goed lyk, kom versuiptoestande oral voor.”
Die uitloging van stikstof op diep sandlande is die oorsaak van mielies wat geel vertoon.
“Die koste van kunsmis en diesel het geweldig gestyg, wat onder die nat toestande die winsgewendheid nog meer negatief beïnvloed.”
Koring moes reeds gestroop word en verloor vinnig graad weens nat landerye. Dit noodsaak koringboere om ten duurste spesiale bande aan te koop of werktuie te huur om die koring in dié toestande te stroop.
Koringboere benodig nou baie sonskyn om die koring tot ’n aanvaarbare vogpersentasie te droog voordat dit by silo’s gelewer kan word.
Planttyd vir suikerbone is reeds verby. As boere nou plant, kan moontlike vroeë ryp in Maart ’n risiko inhou.
Sojabone word ook geel, hoewel dié gewas die reëntoestande beter hanteer.
Hannes Vosloo, ’n boer van Kroonstad, sê hy kon op Maandag 3 Januarie die eerste keer in drie weke werk. In die bykans 30 jaar wat hy boer, is dit die eerste keer dat hy vir so lank nie kon werk nie.
“Die landerye is eenvoudig versadig en die water is net te veel.”
Volgens Willie Prinsloo, ’n saaiboer van Paul Roux, is die grond te nat om groenvoer vir weiding te plant. Hy het ook sojabone op die land en kan nog nie die skade bepaal nie. Hy reken die meeste landerye het spoelskade.
In ’n verklaring wat Maandag (10/01) deur die VF Plus uitgereik is, is Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, versoek om gebiede waar grootskaalse skade weens die buitengewone reënseisoen aangerig is, tot rampgebiede te verklaar.