Die bekende meestersatleet van Kroonstad Bobby de Kock (78) het weer ’n puik atletiekseisoen agter die rug.
Hy het sewe medaljes losgeslaan op die Suid-Afrikaanse meestersatletiekkampioenskapsbyeenkoms (Sama), wat van 4 tot 6 Mei in Kaapstad plaasgevind het: vyf goue medaljes, in die 400 m-, 800 m-, 1 500 m- en 5 000 m-nommer en 2 000 m-hindernis; en silwer in die 100 m- en 200 m-naelloop.
Einde April, op die Gauteng-Noord-meestersatletiekkampioenskapsbyeenkoms, het De Kock sewe goue medaljes ontvang, vir sy deelname in die 100 m-, 200 m-, 400 m-, 800 m-, 1 500 m- en 5 000 m-nommer, asook die 2 000 m-hindernis.
Op die Vaalrivier-meestersatletiekkampioenskapsbyeenkoms, wat op 15 April in Sasolburg aangebied is, het hy agt goue medaljes verwerf: in die 100 m-, 200 m-, 400 m-, 800 m, 1 500 m en 5 000 m-nommer asook die 2 000 m-hindernisnommer en verspring.
Op die Sentrale Gauteng-meestersatletiekkampioenskapsbyeenkoms, wat vroeg Maart plaasgevind het, het De Kock agt medaljes verower: ses goue medaljes, in die 200 m-, 400 m- en 5 000 m-nommers, die 2 000 m-hindernis en verspring; asook silwer in die 800 m- en 1 500 m-nommer.
Boonop beoog hy om in Augustus sy 200ste parkrun te voltooi.
“Ek is baie dankbaar vir nog ’n wonderlike en geseënde atletiekseisoen wat agter die rug is.
“Dit is absoluut net genade van bo,” sê De Kock.