Die VKB Bieliemieliefees in Reitz spog met nog ’n geslaagde en baie suksesvolle fees wat agter die rug is.
Die komitee bedank die Reitz-gemeenskap, vriende van buite, asook elke borg wat die fees moontlik gemaak het, hartlik vir die wonderlike ondersteuning wat tot die sukses van nog ’n Bieliemieliefees gelei het.
Die VKB Bieliemieliefees-komitee werk jaarliks regdeur die jaar aan die VKB Bieliemieliefees om te verseker dat besoekers ’n lekker interessante fees kan bywoon. Nie net om altyd nuwe feesgangers saam met die gereelde besoekers te lok nie, maar ook om vir borge ’n platform te skep waar hulle goeie blootstelling kan kry.
Behalwe vir die genot-faktor lê daar ’n dieper visie in die fees. VKB Bieliemieliefees ploeg ’n groot gedeelte van die opbrengs terug in instansies, kerke en organisasies in die gemeenskap om te verseker almal trek voordeel uit die fees.
Die VKB Bieliemieliefees is immers ’n groot finansiële inspuiting vir die Reitz-gemeenskap.
Só trek Reitz en die omgewing almal voordeel uit die jaarlikse fees, ’n fees vir die gemeenskap.
Die organiseerders poog om ook elke jaar die gemeenskap by die VKB Bieliemieliefees te betrek, soos met sportaktiwiteite wat in en rondom Reitz aangebied word. Dit sluit prettige boeresport, gholf, visvang, skattejag, rugby en netbal in.
Dan is daar natuurlik die bonus van die Bieliemieliefees-marathon en bergfietswedren waarmee atlete en fietryers kan kwalifiseer vir die Comrades-marathon asook die jaarlikse Kaapstad-fietstoer.
Die fees bied jaarliks uitstekende vertonings aan deur Suid-Afrika se gewildste kunstenaars, wat die gehoor lekker laat saamsing en dans.
Die feesterrein is ook vol van alles van spogvee tot reuse-trekkers, wat groot belangstelling uit alle oorde lok.
Die VKB Bieliemieliefees poog om veel wyer as die gewone feesterrein te gaan om besoekers uit verskillende sfere te lok ter ondersteuning van Reitz en omgewing.
Daar word reeds druk beplan aan volgende jaar se fees en organiseerders wil jaarliks verbeter op die vorige jaar se fees – en het baie groot planne vir 2025.
Die VKB Bieliemieliefees-komitee is dankbaar teenoor elkeen wat vanjaar die fees ondersteun het. Deur dié ondersteuning is ’n groot bydrae en verskil in die plaaslike gemeenskap gemaak.
Die organiseerders en betrokkenes is opgwonde om almal hartlik by die fees vir 2025 te verwelkom.