‘Stres-perdjie’ beloon

Vanjaar was dit ’n Gautenger se pampoen, Soufie, wat op die jaarlikse Vrede-reuse-pampoenfees as die wenner gekroon is. Dié bielie het die skaal op 631 kg laat kreun.


Vanjaar was dit ’n Gautenger se pampoen, Soufie, wat op die jaarlikse Vrede-reuse-pampoenfees as die wenner gekroon is. Dié bielie het die skaal op 631 kg laat kreun.

Pampoene is van wyd en syd gebring na die fees wat op 15 April by die Vrede-gholfklub aangebied is.

Die 34-jarige Wykus Lamprecht van Meyerton sê dit was vanjaar die agtste seisoen dat hy reuse-pampoene gekweek het om aan kompetisies deel te neem.

Volgens Lamprecht word die saad in September geplant, en teen Desember word die jong pampoenplantjie bestuif.

Dit neem sowat 160 tot 170 dae, met behulp van goeie bemesting, voeding, die regte hoeveelheid water en gereguleerde temperatuur, om reusagtige pampoene te kweek.

Soufie was Lamprecht se tweede wenpampoen vir dié seisoen. Vroeër het hy met Liesbet aan die Pretoria-boeremark se Goliat van Gat-pampoenfees deelgeneem, en Liesbet het ’n volle 890 kg geweeg en die titel as kampioen verwerf.

Soufie was die vierde grootste pampoen wat Lamprecht al gekweek het.

“Om Soufie in een stuk op die Vrede-fees te kry was ’n uitdaging,” vertel hy.

“Ek moes spesiaal ’n sleepwaentjie huur om die pampoen te vervoer en ’n hyskraan met ’n harnas om die pampoen te laai.”

Die rit na Vrede was spanningsvol vir die trotse pampoenkweker, weens die swak toestand van die paaie.

Eindelik moes hulle ’n ompad ry – boonop baie stadig en versigtig. Die bykans 170 km het hulle ’n volle drie uur geneem om af te lê.

“Ek was verbaas en geskok om te sien in watter swak toestand die paaie in die Vrystaat is.”

Lamprecht sê vir hom is dit belangrik om vir al die pampoene name te gee en om hulle te vertroetel en te versorg.

Die grootste pampoene wat hy al gekweek het, is: Liesbet, wat 890 kg geweeg het; Barbie, van 846 kg; Johanna, van 790 kg; en dan Soufie.

“Die pampoene is amper soos jou troeteldiere.

“Jy vertroetel en gee liefde, en dit is baie genotvol wanneer jy sien hoe die pampoen groei in elke fase.”

Soufie se naam is afgelei van dié van die moederpampoen, Sofia. Lamprecht het die saad van Sofia gebruik om Soufie te kweek.

Sofia was in 2022 die pampoen van Willem le Grange van Ruiterbos in die Wes-Kaap. Hy hou steeds die rekord vir die swaarste pampoen – Sofia het 904 kg geweeg.

Dit is Lamprecht se droom om ’n pampoen van 907 kg te kweek. Dan sal hy vir ’n internasionale eerbewys kwalifiseer en met ’n spesiale baadjie of lapelwapen vereer word.

“As die pampoen-gogga jou eers gebyt het, is daar probleme en raak jy nie maklik van die stokperdjie, of moet ek sê stres-perdjie, ontslae nie,” meen Lamprecht.

“Dit is nou winter, so ons rus ’n bietjie, maar ek is reeds besig om die grond reg voor te berei en om te besluit op die gene en saad wat ek in die nuwe seisoen gaan gebruik.”

Die reuse-pampoene word gewoonlik vir liefdadigheids­organisasies en instansies soos kinderhuise of ouetehuise gegee, of word aan veeboere as voer geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.