Streng beheer toegepas

“Die nuwe verbod deur die department van landbou rakende die uitbreking van bek-en-klouseer is hersien en bepaal dat geen beeste, skape of bokke in die Thabo Mofutsanyana- en Fezile Dabi-distrik verskuif mag word nie,” sê Friedl von Maltitz, vise-pre


“Die nuwe verbod deur die department van landbou rakende die uitbreking van bek-en-klouseer is hersien en bepaal dat geen beeste, skape of bokke in die Thabo Mofutsanyana- en Fezile Dabi-distrik verskuif mag word nie,” sê Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou.

Bek-en-klouseer kom nou by Marquard, Lindley en Harrismith in die Vrystaat voor.

Die departement van landbou en ander belanghebbendes het op Dinsdag (06/09), vergader om te besluit hoe die uitbreking van die hoogs aansteeklike siekte verder beheer sal word.

Bek-en-klouseer is twee weke gelede by ’n voerkraal in Harrismith gediagnoseer en het intussen na varke en beeste op meentgrond langs die voerkraal versprei.

Adv. George Galloway, voorsitter van die Harrismith-distriksboerevereniging, sê daar is groot kommer dat die siekte verder in die Oos-Vrystaat en Lesotho kan versprei.

Hy sê die N5 en N3 kruis die kwarantyngebied by Harrismith en daar is nou weinig padversperrings om te voorkom dat die siekte van hier versprei nie, wat katastrofiese gevolge vir kommunale en opkomende boere in Qwaqwa inhou.

“Swak instandhouding op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho kan ’n groot bedreiging vir dié land se veekuddes inhou. Sonder behoorlike beheer oor veekuddes en gereelde padversperrings maak die huidige vervoerverbod net geen sin nie.”

Dr. Jack Armour die kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, sê dat dit belangrik is vir alle partye om saam te werk sodat die verspreiding van bek-en-klouseer vinnig hokgeslaan kan word.

“Die polisie, die departement van landbou en boere sal voortdurend die situasie moet koördineer, sodat almal duidelik bewus is van elkeen se rol in die voorkoming en die verspreiding van bek-en-klouseer.”

Armour sê dat die department van landbou vinniger en meer effektief moet optree sodat owerhede en belanghebbendes die proses om die bekamping van die siekte te beheer, verstaan.

Afslaers, vervoerkontrakteurs en beesboere kon sedert die eerste verbod wat ingestel is weinig of geen inkomste verdien nie en dit het ’n enorme impak op die veebedryf.

You need to be Logged In to leave a comment.