Die AfriForum-tak in Viljoenskroon se #OnsDorp-projek is begin. In die opknappingsfase is stoptekens vervang en sper- en verkeerstrepe in dele van die dorp oorgeverf.
Op 15 Junie is daar in Senator Senekalstraat gewerskaf. Benewens die bogenoemde werk aan tekens en strepe is die straat gevee en lastige boomtakke afgesny. In Haveman- en Mareestraat is dieselfde werk verrig en ’n slaggat is herstel.
Met die oog daarop om die dorp merkbaar te verbeter en paaie veiliger te maak – veral met besoekers in gedagte – bedank AfriForum elkeen wat ’n skenking ten bate van die #OnsDorp-projek in Viljoenskroon gedoen het.
“Dit was ’n voorreg om die eerste bedrywighede van hierdie projek by te woon en te sien met hoeveel geesdrif die mense hul dorp wil verbeter,” sê Alta Pretorius, die burgerregte-organisasie se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-gebied.
“Om in ’n straat af te kyk en dis oop en skoon, en daar is strepe en stoptekens, is lankal nie meer ’n gegewe nie, maar iets wat ’n mens maar self moet verseker.
“Ek wil spesiaal die takbestuur van Viljoenskroon, wat almal hul eie werk het en tyd kon vind om te kom help, bedank.”