“Dit voel vir my of ek sopas voluit begin lewe het, en dit is heerlik om steeds te kan werskaf en te woeker,” sê Jeannie Burke van Kroonstad, wat haar 70ste verjaardag op Vrydag 2 Augustus gevier het.
Die afgetrede Engelse onderwyser van Kroonstad se inisiatief en dryfveer ken geen perke nie.
Verlede jaar het sy haar eerste kinderboek in verskeie landstale bekendgestel en het sopas weer ’n kinderboek geskryf.
Benewens die eerste storie, Waar is Wollebol?, wat in Engels, Sesotho, Setswana, IsiXhosa en ook in Zoeloe vertaal is, werk Burke aan die kinderboek Kuiertyd op Kronendal asook ’n illustrasieboek getiteld Shielded, ’n boek met Bybelverse.
Die illustrasies in die boek is drie-dimensioneel en word met die hand gedoen. Die diepte word verkry deur te teken, verf, knip en plak om die nodige effek te kry vir elke spesifieke illustrasie.
Die illustrasies word so geskep om die verskillende kulture en die streke van die betrokke taalgroepe te reflekteer.
Burke, wat op ’n Vrystaatse plaas groot geword het met Sotho-sprekende kinders as haar eerste vriende, het ’n fyn aanvoeling vir mense van verskillende kulture en hul seerkry maak vir haar werklik saak. Vandaar die interkulturele aanslag van haar werk wat ook ’n nalatenskap van haar wese is.
Die boeke word aan biblioteke landwyd bekendgestel en is onlangs aan die Amazwi-museum van letterkunde in Grahamstad voorgelê. Die hardebandbuiteblaaie van die inheemse taal boeke word herontwerp om aan ’n landswye kompetisie deel te neem.
“Vir my het die reis en groot avontuur van skep en skryf nou eers begin, dit laat my met ’n ongekende opgewondenheid,” sê Burke.
Sy het ’n BJuris-graad, ’n honneursgraad in kommunikasiekunde en later ’n Senior en Verdere Onderwys en Opleidingsfase- (NGOS) graad verwerf, en as heeltydse Engels-onderwyser in Kroonstad gewerk.
Ná 25 jaar se toewyding om rigtingbepalend in kinders se lewe op te tree, het sy afgetree. Sy sit nou haar roeping voort met die skryf en illustrasie van leersame kinderboeke.