’n Suid-Afrikaanse vleismerino-stoetooi het in die afgelope 11 jaar 12 keer gelam. Dié besonderse ooi, boer Franco von Wielligh van Kroonstad se grootste aanwins, het al 27 lammers gehad, waarvan sy 21 gespeen het.
Sy het einde Augustus weer ’n drieling gelam, maar twee van die lammetjies is ná die geboorte dood. Die oorlewende lammetjie se ouma het al agt keer gelam en spog met 11 lammers. “Ek het die pa van die lammetjie vir vrugbaarheid geteel – daarom glo ek dat sy in haar ma en ouma se voetspore sal volg,” sê Von Wielligh. “Ek streef daarna om die diere spesifiek met besonderse vrugbaarheid te teel om sodoende die beste vleismerino-ras te bevorder.”
Von Wielligh het sy besonderse stoetooi in 2016 op die jaarlikse produksieveiling aangekoop, en beskou haar as ’n groot aanwins.Sy is vermoedelik die oudste geregistreerde Suid-Afrikaanse vleismerino-ooi wat die meeste lammers met natuurlike dekking gelam het. Van haar lammers het al verskeie pryse gewen.
Dié ooi is op 8 Augustus 2010 as een van ’n tweeling gebore, en was 20 maande oud toe sy die eerste keer gelam het. Sy is as ’n driester-ooi geklassifiseer, wat beteken sy is in die boonste 5% nasionaal vir vrugbaarheid. In 2016 het sy ’n tweeling gehad, en die rammetjie van dié tweeling is in 2017 as die Vrystaat-superlamkampioen en die Mpumalanga-ramlam-wolkampioen gekroon.
In 2018 het sy weer ’n tweeling gehad, dié keer albei ooitjies, en die twee is in 2019 op die Stelena- SA vleismerinostoetery se jaarlikse veiling vir ’n rekordprys van R15 000 aan die L&T-boerdery (Gottenburg- SA vleismerino-stoetery) verkoop. Von Wielligh boer sedert 2007 op die plaas De Rust buite Kroonstad.
Hy is hoofsaaklik ’n skaapboer, maar bedryf ook ’n vervoermaatskappy.Manie Lombard, president van die Suid-Afrikaanse Vleismerino-genootskap en van die Stelena-stoetery in Oranjeville, het die uitstaande ooi geteel.