Ek sit aandagtig voor my rekenaar. Beurtkrag het sopas begin en daar hang skielik ’n doodse stilte om my.
So dink ek by myself: My werklading vir die komende week laat nie juis die vier uur lange beurtkrag-sessie toe nie.
Ek haal diep asem en gaan steek die gasstoof aan sodat die water in die ketel kan kook. Oortuig daarvan dat ’n koppie kafeïen die oplossing vir die effe somber gemoed is.
Terwyl die water kook, hoor ek hoe naarstiglik my selfoon na my roep, en ek besef dit is ’n paar WhatsApp-boodskappe wat deurkom. Dadelik loer ek of dit nie werk is nie – my foon is immers my tweede kantoor. Ek werk maar met moeite op dié klein toestel wanneer die WiFi-verbinding my in die steek laat.
Nou kyk, dit is natuurlik ’n uitdaging op sy eie, siende dat ek nie juis so goed kan sien nie. Darem het ek die anderdag by Clicks ’n bril aangeskaf wat die letters effe vergroot.
Ek loer deur die WhatsApp-boodskappe, net om te besef dit is my liewe tante wat ’n paar snaakse video’s vir die dag aangestuur het. Ek kry dit weliswaar ná 12:00, dus neem ek aan haar WiFi werk weer. Anders ontvang ek die boodskappies gewoonlik al vroegoggend.
Daar is ’n kragopwekker tot my beskikking, maar dié se geraas dryf my teen die mure uit en ek werk nog aan die sonkragstelsel . . . gaan nog baie lank daaraan moet werk.
Dan gaan maak ek my weer voor die rekenaar tuis. Ek maak ’n Word-dokument oop, en in die stilte begin ek tik en tik en tik.
Wat baie interessant is, is dat die stilte ’n kalmte en rustigheid oor my laat spoel. Dit voel of ek effe meer fokus, so asof my stukkie wêreld gaan stilstaan het. Selfs my brein skakel oor na ’n rustiger luim.
Die woorde vloei makliker in die stilte. Die berg werk voor my raak stukkie vir stukkie minder en ek skep stelselmatig moed vir die res van die dag.