Charl van Rooyen saam met sy vrou, Riana. Foto: Verskaf

‘n Stigterslid van die destydse Vrystaat-koerant, nou VrystaatKroon, se lewe is onlangs gevier ná sy afsterwe in die ouderdom van 88 jaar.

Charl van Rooyen is op 25 Junie in die Mediclinic Bethlehem aan hartversaking dood. Hy het begin Junie ‘n pasaangeër ontvang.

Van Rooyen is in 1937 in Lindley gebore, waar hy op sy familieplaas grootgeword het. Ná skool het hy landbou aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer.

Sy loopbaan het by die destydse Wolraad in Stellenbosch begin, en in dié tyd het hy sy toekomstige vrou, Riana Willers, deur sy suster Ansie ontmoet. Hulle het saam aan die Heidelbergse Onderwyskollege studeer. Van Rooyen en Riana is kort daarna getroud, waarna hulle na Bethlehem verhuis het en hy by Vleissentraal begin werk het.

In sy tyd by Vleissentraal is Van Rooyen tot bestuurder van die stoetveeafdeling in Pretoria bevorder. Hy het ook as afslaer by Roderick, Martin and Purdham gewerk. Daarna is hy deur Yskor aangestel om ‘n landbouafdeling genaamd Ferroland Grondtrust te begin.

As veekundige was hy oor die jare heen by verskeie telersgenootskappe betrokke en het hy as adviseur opgetree. Hy was tot en met 2023 by die tuli-beestelersgenootskap betrokke. Hy het later steeds saam met sy dogter Adria van Rooyen, ‘n grafiese kunsternaar, die Tuli Joernaal behartig.

Van Rooyen was bekend vir sy dormerstoetery, genaamd Vanovis Dormers, waardeur hy ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling van die ras gelewer het. Hy het ook die Maluti Dormergroep help stig.

Van Rooyen was een van die stigterslede van Vrystaat, wat in 1975 in Bethlehem die eerste keer die lig gesien het. Dit was die eerste Afrikaanse koerant in die dorp. Hy het saam met Petrus Pretorius, Julian Papenfus, dr. Henri Brummer en Zach Coetzee die koerant op die been gebring. Johan Nel van Pretoria is as die eerste redakteur aangestel.

Ná vele uitdagings is Vrystaat op 7 Mei 1975 op ‘n spoggeleentheid in Bethlehem bekendgestel. Die koerant het van hande verwissel totdat dit in 1999 aan Media24 verkoop is, en in Oktober 2024 is dit aan die Novus-groep verkoop.

Benewens sy passie en liefde vir diere, beskryf Van Rooyen se familie hom as ‘n mense-mens. In sy jonger dae was hy ‘n kranige tennisspeler en het hy sport geniet. In die laaste tyd het hy rolbal gespeel.

Hy word oorleef deur Riana (80); drie dogters, Hannelie van Rooyen (55), Corlia Boshoff (53) en Adria van Rooyen (50); skoonseuns Jandré Boshoff en Andrew Hope; asook sy kleinkinders, Adré (27) en Beate Boshoff (23).

Van Rooyen se lewe is op 5 Julie om in die lapa van die Bergprag-aftreeoord in Bethlehem gevier.

You need to be Logged In to leave a comment.