Met jarelange betrokkenheid by landbouprojekte, vleklose oudits en projekbestuurondervinding is VKB onlosmaaklik deel van boerdery-ontwikkeling.
VKB se benadering behels hoofsaaklik die vestiging van volhoubare boerderye wat op hul eie bene kan staan. Teen hierdie agtergrond is VKB Landbou-ontwikkeling by nagenoeg 120 boere in die Oos-Vrystaat en Limpopo met gewas- en veeprojekte betrokke.
Deur VKB se wye netwerk handel- en meganisasietakke, asook graanleweringspunte, word toeganklikheid vir nuwe-era-boere verseker en word daar in alle behoeftes voorsien. Neem ’n mens VKB se historiese en voortgesette betrokkenheid in ag, is dit nie vreemd dat verskeie nuwe-era-boere wesenlike suksesse behaal – en die grens na kommersiële boerdery begin oorsteek het en volhoubaar boer nie.
Die benadering met VKB se ontwikkelingsprogramme is om boere te ondersteun met ’n volledige pakket, wat uit insetverskaffing (in samewerking met belanghebbendes), finansiering, opleiding, mentorskap en bemarking bestaan.
’n Belangrike komponent hiervan is om boerderye behulp saam te wees met finansiering en tegniese advies deur middel van deeglike seisoenbeplanning met begrotingskontrole. Aangesien volhoubaarheid en die geheelplaas-benadering kernbelangrik is, word nuwe-era-boere ook met strukturele en grondkundige verbeterings, byvoorbeeld kontoere en kalktoedienings, asook rakende meganisasiebehoeftes, toegerus.
Sonder die bykomende ondersteuning sal langtermynproduksie en -groei nie volhoubaar kan gedy nie.
Met plaasvlakbetrokkenheid van VKB-mentors word die boer met alles wat op die plaas gebeur, ondersteun. Die boer ontwikkel die beste deur dit wat hy leer self te doen en toe te pas.
Landboukundige en bemarkingsdienste van VKB en samewerking met kommersiële boere (deelsaai-ooreenkomste) is verdere voorbeelde van ondersteuning, wat kritiek belangrik is vir nuwe-era-boere se sukses.
Wat insetaankope aanbetref, word boere aan insetverskaffers binne die bedryf blootgestel en deur hulle geadviseer, maar die keuse van watter produk om te gebruik berus by die boer. Insetblootstelling leer die boer om onderskeidend en met selfvertroue keuses te maak. Die finansieringsrisiko by hierdie boere is gewoonlik hoog, aangesien ’n oorgrote meerderheid van die boere nie oor sekuriteit beskik nie. Die klem val dus sterk op deeglike finansiële beplanning en begrotingskontrole.
VKB het ’n leidende rol daarin gespeel om ’n plaaslike sentrum vir PALS (Partners in Agri Land Solutions) in die Vrystaat te vestig. SA PALS is ’n nasionale beweging wat daarna streef om samewerking en vennootskappe tussen kommersiële en nuwe-era-boere te bevorder en grondvlakverhoudings tussen die twee sektore uit te brei.
Die regering, agri-ondernemings en finansiële instellings is met omvattende ondersteuningsprogramme deel van die PALS-veldtog. Wat PALS uniek maak, is dat die konsep deur boere vir boere ontwikkel is en dat mentorskap ’n onmisbare bousteen is en bly.
VKB het ’n langtermynvisie om in die toekoms ’n toepaslike rol binne die hervorming van die plaaslike landboubedryf en boerdery-ontwikkeling as geheel te vervul. VKB beskik oor die kennis, ondervinding, vaardigheid en kapasiteit om die rol effektief te vervul en ’n positiewe bydrae binne die landbousektor te lewer.