’n Leerling aan die Hoërskool Trio in Kroonstad, Miya Jordaan, is ’n finalis in Rapport se matriekafskeid-kompetisie.
Vanjaar is meer as 500 inskrywings ontvang, en dit was vir beoordelaars ’n moeilike taak om 30 finaliste aan te wys omdat al die inskrywings uit eie reg uitgestaan het.
Matriekleerlinge van oor die land heen, en selfs uit die buurland Namibië, het hulle hiervoor ingeskryf.
Sommige jongmense het hul eie klere ontwerp en gemaak, terwyl ander se ma’s, oumas en tantes handjie bygesit het.
Party matrieks kon ’n droom-uitrusting leen, talle het uitrustings via die internet bestel en party het by ontwerpers aangeklop.
Daar is rokke in elke denkbare styl en kleur. Boonop beperk jong mans hulle lankal nie meer tot die tradisionele swart aandpak nie, en het hulle self met kleure en patrone gespeel. Die jongmense se flair en kreatiwiteit het geen perke nie.
Die publiek kan só stem: Stuur ’n SMS na 34581. Begin die boodskap met die woord MATRIEK met die kode van jou gunsteling-inskrywing (byvoorbeeld A1 of B1 of C1) daarna.
Die matriek se kode is aan die begin van die beskrywing by elkeen se foto in die plasing op Rapport se Facebook-blad.
Slegs een stem per selfoonnommer sal aanvaar word X jy kan dus nie ’n klomp stemme vir een kandidaat uitbring nie. Bondel- en betaalde SMS’e sal nie aanvaar word nie.
Elke SMS kos R1,50. Gratis SMS’e geld nie en foutiewe SMS’e sal nie verreken word nie. Die stemmery sluit op Woensdag 15 November om 22:00.
Die wenners word op Sondag 19 November in Rapport aangewys.
Wenners stap weg met lekker pryse.
Die deelnemers met die meeste stemme wen R7 000, asook ’n Huawei Nova 10 Pro-selfoon en R60 se lugtyd per maand vir ’n jaar van Smartcall. Die prys vir die tweede plek is R5 000, asook R60 se lugtyd per maand vir ’n jaar.
Derde plek verdien R3 000 en lugtyd soos hierbo. Smartcall sal ook vir elk van die 30 finaliste ’n beperkte hoeveelheid data gee.