Stemdag word só gemoniteer

AfriForum se span van 134 onafhanklike waarnemers is ná verdere opleiding volledig toegerus om op Woensdag 29 Mei die integriteit van die verkiesing by verskeie verkiesingslokale te verseker.


AfriForum se span van 134 onafhanklike waarnemers is ná verdere opleiding volledig toegerus om op Woensdag 29 Mei die integriteit van die verkiesing by verskeie verkiesingslokale te verseker.

Die burgerregteorganisasie het homself daartoe verbind om die verkiesingsproses noukeurig dop te hou om ’n regverdige verkiesing te bevorder.

Volgens Corné Cronje, bestuurder van gemeenskapstrukture by AfriForum, werk dié organisasie hard om te verseker dat die beginsels van demokrasie gehandhaaf word en dat alle Suid-Afrikaners in ’n veilige en regverdige omgewing kan leef.

“Verkiesings moet vry en regverdig wees, sonder enige inmenging of intimidasie van kiesers.

“Dít is vir ons van kardinale belang, en daarom het ons ook onafhanklike waarnemers opgelei vir hierdie taak,” sê Cronje.

AfriForum maan kiesers om seker te maak dat hulle by die stempunt waar hulle geregistreer is, stem.

Die organisasie se buurtwagte oor die land heen is op gereedheids­grondslag om ongerymdhede te hanteer, asook om die verkiesing te moniteer.

“Ons buurtwagte staan slaggereed om onmiddellik op te tree om te help om gemeenskappe tydens die verkiesing te beveilig,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

AfriForum moedig alle geregistreerde kiesers aan om hul kruisie te gaan trek.

“Jou stem is van onskatbare waarde om verandering teweeg te bring en ’n beter toekoms vir almal te verseker,” sê Cronje.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.