Sprokiesdorp wil stemme werf

,

Stem vir Rosendal om een van die finaliste in die Dorp van die jaar-kompetisie te wees


Madli Grobbelaar

Rosendal in die Oos-Vrystaat is as een van die semifinaliste in Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie vir 2025 benoem.

Die aankondiging is op Sondag 20 April gemaak.

Dié dorp is ‘n miernes van bedrywighede, waar verskeie sakeondernemings, inwoners en die munisipaliteit hande vat om hul dorp se plek as finalis in die kompetisie te verseker.

“Dit is ‘n groot eer vir Rosendal om een van die Vrystaat se semifinaliste te wees. Rosendal is ‘n eg klein plattelandse dorpie; sonder ‘n kitsbank, sonder ‘n groot supermark of kettingwinkels en met slegs een vulstasie, wat net halfdag op

Saterdag en glad nie op Sondag oop is nie,” sê Anton Burggraaf, uittredende sekretaris van die Rosendal-Mautse-dorpsraad.

Rosendal is bekend as ‘n kunstenaarsdorp, met verskeie bekende kunstenaars wat daar woon. Dit is ‘n groot toeriste-aantreklikheid en daarom spog Rosendal met meer as 30 gastehuise; ‘n onthaallokaal ideaal vir troues; 6 unieke restaurante; 2 algemene handelaars en 3 kunsgalerye, asook ‘n gasvrye en baie hegte gemeenskap. Die 150 permanente inwoners laat gaste vinnig welkom en soos ou vriende voel.

Rosendal het ook bekendheid verwerf vir die klein-huisiesprojekte wat op televisie vertoon is.

Hoewel die dorpie klein is en nie langs ‘n hoofroete nie, staan Rosendal kop en skouers bo ander dorpe vir sy gasvryheid, vriendelikheid en verhouding met die plaaslike munisipaliteit.

Burggraaf sê dit maak ‘n groot verskil aan die welstand van mense in die dorp, asook besoekers. Die dorp het ‘n mengsel van professionele mense en kunstenaars wie se vaardighede en talente mekaar komplementeer en ‘n vaardigheidspoel vorm.

Vaardighede word ingespan om opheffingsprojekte saam met en vir inwoners van Mautse, die naburige township, te skep.

Daarom wil die inwoners van Rosendal mense aanmoedig om vir dié sprokiesagtige toeristebestemming as Dorp van die jaar te stem.

Om te stem SMS “Rosendal” na 33157, teen R 1,50 ‘n SMS. Elke nommer kan tot 30 keer stem.

Gratis SMS’e tel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.