Sprankel-tiener wen

’n Skoonheid uit die hartjie van die Vrystaat is as die wenner in Huisgenoot se Mej. Tiener-kompetisie gekroon.


’n Skoonheid uit die hartjie van die Vrystaat is as die wenner in Huisgenoot se Mej. Tiener-kompetisie gekroon.

Die 17-jarige Carli Oosthuizen, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem en inwoner van Senekal, is verlede week as die wenner aangekondig.

Die beeldskone en talentvolle Carli het uit die honderde inskrywings wat van oor die land heen ontvang is van die top 30 na die top 10 deurgedring om as die wenner aangekondig te word.

Die uiteindelike keuse is nie net deur ’n paneel beoordelaars beslis nie, maar ook die publiek.

“Ek was verstom en oorstelp van vreugde toe ek die oproep Vrydag (10 Mei) van Huisgenoot ontvang. Dit was natuurlik ’n groot staatsgeheim totdat die nuus amptelik in Huisgenoot verskyn het,” sê Carli.

Sy kon darem haar vreugde deel met haar ma, Anjé, wat saam met Carli op pad was om haar by hokkieoefening te gaan aflaai toe sy die oproep ontvang het. Die geheim is later gedeel met haar pa, Wernard, wat ook moes swyg.

Sy kon eers met Huisgenoot se besoek die nuus met haar boetie, Bruwér (11), deel. Hy was immers die een wat haar inskryfvideo vir die kompetisie verfilm het.

Carli sê sy kan steeds nie glo dat sy die wenner van ’n nasionale kompetisie is nie, en alles voel nog baie onwerklik.

Sy is so ongelooflik dankbaar en baie gelukkig oor die wonderlike eer wat haar te beurt geval het. Sy voel absoluut geseënd dat daar so baie mense was wat haar ondersteun en bygestaan het.

Carli hoop om ’n inspirasie vir alle tieners te wees en sy sal graag op die sosiale media verskeie onderwerpe waarmee tieners soms worstel aanspreek, om só bemoediging te bied.

Dié natuurlike skoonheid is verlede jaar as Mej. Voortrekker gekroon. Sy is ook die kaptein van haar skool se eerste hokkiespan en is toegewyd aan haar akademiese aktiwiteite.

Carli het onder andere ’n stewige kontantbedrag en ’n eilandvakansie na Mauritius in die kompetisie gewen.

Die donkerkop beoog om volgende jaar sielkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom te studeer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.