Die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks vir 2024 begin op 2 Maart, met die Bethlehem Voortrekker Hoërskool wat sy aanspraak op die titel teen die Hoërskool Diamantveld in Kimberley op die rugbyveld afskop.
Die Wesgrow-reeks, soos dit wyd bekend staan, plaas sedert 2018 klem op massadeelname en het sy ontstaan gehad na aanleiding van die verskynsel dat deelname binne ligaverband op die platteland begin kwyn het.
Mnr. Gys Coetzee, uitvoerende direkteur van die Wesgrow-reeks, sê danksy die ontstaan van dié reeks is sport in die sentrale deel van ons land opwindend en word gesonde kompetisie gebied.
Die reeks trek jaar ná jaar al hoe meer aandag, en meer skole doen aansoek om deelname.
Nadat Voortrekker en Diamantveld sake in die rugby-openingswedstryd teen mekaar uitgespook het, kom die ander skole aan die beurt.
Op 9 Maart tree die Hoërskool Sentraal aan teen die Hoërskool Trio in Kroonstad, terwyl die Hoërskool Goudveld op 12 Maart in Welkom teen die Hoërskool Fichardtpark gaan kragte meet.
Die laaste rugbywedstrydbepaling vir die eerste ronde is die kragmeting waarvoor die Hoërskool Witteberg na Bloemfontein gaan reis om op 12 Maart teen die Hoërskool Jim Fouché mee te ding.
Coetzee sê die waarde van skolesport mag nooit onderskat word nie.
In 2023 was die Wesgrow-reeks weer ’n hoogtepunt op alle deelnemende skole se kalender, en daar word met opgewondenheid na vanjaar se kragmetings uitgesien.
“Die Hoërskool Trio is verlede jaar as nuweling verwelkom, en hierdie jaar is dit ook aangenaam om die Universiteit van die Vrystaat (UV) as medeborg van hierdie gesogte reeks te verwelkom,” sê Coetzee.
“Dit is danksy die betrokkenheid van die gemeenskap en instellings soos Wesgrow en die UV dat ons aan leerlinge die voorreg van gesonde kompetisie op ’n hoë vlak kan bied.”
Die reeks gaan in 2024 beslis, soos in vorige jare, vol aksie wees, en sal na verwagting ’n paar verrassings oplewer.
Dit is die tweede jaar dat ’n enkelronde-formaat gevolg gaan word. Dit beteken dat elke bepaling van uiterste belang is om skole se finale plekplasing aan die einde van die reeks te bepaal.
Die reeks behou ook sy verbintenis met SuperSport, wat danksy sy SuperSport Schools-platform wedstryde aanlyn sal uitsaai.
Sentraal24, waarvan VrystaatKroon ’n publikasie is, is vanjaar ’n mediaborg.
Dit maak dit moontlik dat die reeks, waarin deelname oor drie provinsies strek, verdere blootstelling aan alle belanghebbendes gee.
Huidige titelhouers
Die skole wat die titel wat hulle in 2023 in die reeks verwerf het in die onderskeie sportsoorte verdedig, is:
- rugby – die Bethlehem Voortrekker Hoërskool;
- seunshokkie – die Hoërskool Jim Fouché;
- meisieshokkie – die Bethlehem Voortrekker Hoërskool;
- hokkie, algeheel – die Hoërskool Jim Fouché; en
- netbal – die Hoërskool Sentraal.
Die algehele wenner van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks vir 2023 is die Bethlehem Voortrekker Hoërskool.