’n Vergadering van die Dihlabeng-munisipaliteit moes verdaag toe ’n chaos uitgebreek het oor senior amptenare en raadslede wat na bewering maandeliks sowat 30 spookwerkers se salarisse onder hulself verdeel.
Een van die spookwerkers word maandeliks glo ’n salaris van R58 500 betaal, wat ’n motortoelaag insluit, terwyl ’n ander een glo R35 000 per maand kry. Dit is nie bekend hoe lank die beweerde korrupsie al plaasvind nie.
Volgens Isoldé Laesecke, ’n onafhanklike raadslid, het ’n groep ANC-lede wat glo korrupsie in die munisipaliteit wil beveg, dié kwessie verlede week as ’n besprekingspunt op die raadsvergadering gelys.
Laesecke sê die ander ANC-faksie in die raad wou nie dié bespreking toelaat nie en daar was so ’n chaos dat die speaker die vergadering eers verdaag het.
Die ANC-faksie wat nie die spookwerkers wou bespreek nie, het toe ’n ander beweerde korrupsiekwessie as besprekingspunt gelys. Die bespreking oor die spookwerkers het nie plaasgevind nie en Laesecke sê sy en nog raadslede het uit die vergadering gestap.
’n Fluitjieblaser het die lys met die 30 name van moontlike spookwerkers aan die Valke in Bethlehem oorhandig, en dié eenheid het die munisipaliteit in Desember versoek om sekere inligting vir ’n ondersoek beskikbaar te stel.
’n Afskrif van die Valke se versoek aan die munisipaliteit is in Netwerk24 se besit.
Van die bewerings wat deur die een ANC-faksie gemaak word, is dat van die spookwerkers sedert hul “aanstelling” reeds soveel as R360 000 betaal is en dat die bedrog maandeliks tot geldelike verliese vir die munisipaliteit lei.
Die nuwe toesighouer van ’n spookwerker wat volgens sy bestuurder van die afdeling vir menslike hulpbronne na die rekeningafdeling oorgeplaas is, het nie geweet van die werker se bestaan nie.
In nog ’n voorval het ’n munisipale direkteur gesê ’n werker, ene R. Nchabane, wat nie opgespoor kon word nie, is weens “chroniese” Covid-19 met siekteverlof.
Geen dokumente kon egter opgespoor word ter stawing dat Nchabane met spesiale verlof is nie. Toe Nchabane se personeellêer aangevra is, het dit aan die lig gekom dat hy in drie jaar nog nooit enige vakansie- of siekteverlof gevra het nie.
Die munisipaliteit het dié spookwerker in die afgelope drie jaar glo R293 000 betaal.
Nog ’n werker het glo aan die begin van Januarie vir die munisipaliteit begin werk, maar reeds einde Desember sy eerste salaris ontvang.
Van die spookwerkers word op ’n kontrakgrondslag vir drie maande aangestel, wat elke keer hernu word.
Die Valke het die munisipaliteit in Desember gevra vir bewyse dat die advertensies van die poste geadverteer is, aansoekvorms van werknemers, besonderhede oor wie met die aansoekers onderhoude gevoer het, kortlyste van aansoekers, inligting oor in watter afdelings die vermeende spookwerkers aangestel is, bywoningsregisters, toesighouers se name en die werkers se name, vanne, identiteitsdokumente, adresse en bankbesonderhede.
Tshediso Maitse, woordvoerder van die munisipaliteit, sê hy is bewus van die bewerings wat die ronde doen, maar die kwessie is nog nie op ’n raadsvergadering bespreek nie. Hy sê hy sal reageer sodra meer inligting beskikbaar is.